Sangsensasie Talitha Luiters (12), het vanjaar vir die derde keer aan die Suidoosterfees deelgeneem.
Dié gr. 6-leerder van Saxonsea Primêr, is sowat drie jaar gelede deur Lorenzo Davids, hoofuitvoerendebeampte van VMR Records, by ’n talentkompetisie raakgesien.
Hy het haar onder sy vlerk geneem en sedertien het Luiters van krag tot krag gegaan.
Talitha het in 2015 aan die Suidooster Talentkompetisie deelgeneem, 2016 is sy deur na die finale en vanjaar is sy genooi om by die Konsert van Hoop saam met Karin Kortjè, Coenie de Villiers en Karin Hougaardt op te tree.
Die tema van die bal was “Legendes” en Luiters het Mariah Carey se Hero vir aartsbiskop Desmond Tutu gesing. Sy het ook ’n ruiker aan dié legende en sy vrou, Leah, oorhandig.
Sy is tans besig met die opname van haar eerste album wat volgens bestuurder Chris Samuels vanjaar nog op die rakke sal wees.
Talitha, wat gereeld by feeste optree, sê sy hou daarvan om voor groot skares te sing, maar geniet dit ook om in die ateljee te wees en liedjies op te neem.
Sy het ook vanjaar haar oorspronklike liedjie, Guardian Angel, wat sy saam met Davids geskryf het, vrygestel.
“Om my eie liedjie te skryf het my verskriklik baie geleer. Die liedjie handel oor hoe ons ons ouers moet waardeer. Daar is kinders wat nie ouers het nie.”
Talitha se pa het haar ook gehelp om die liedjie te skryf.
Haar nuwe album sal hoofsaaklik ’n gospelalbum wees met lekker up tempo en worship-liedjies.