Eerste Let’s Play-funksie reuse sukses

Weskus Nuus in samewerking met SuperSport en Let’s Play het op 27 Oktober hul heel eerste toekenningsaand by die historiese Tori Oso-geselshuisie in Mamre gehou.


Weskus Nuus in samewerking met SuperSport en Let’s Play het op 27 Oktober hul heel eerste toekenningsaand by die historiese Tori Oso-geselshuisie in Mamre gehou.

Krieket-omroeper en direkteur van die Cape Cobras, Jeremy Fredericks, was die seremoniemeester en oud-Springbok Dale Stanton het die aand na Mamre gereis om Atlantis se uitnemende atlete se suksesse te vier.

Agt leerders van verskeie skole in die dorp is deur die loop van die jaar deur ouers, afrigters of die skool ingeskryf om in aanmerking te kom vir die titel van Let’s Play-wenner van die maand.

Weskus Nuus het ’n wenner aangewys en ’n profiel van die leerder in die koerant geplaas. Hulle het ook ’n geskenkpak van SuperSport en Let’s Play ontvang.

Dit was ’n tawwe stryd om die algehele wenner van die jaar aan te wys, maar Roy-Keane du Plessis, ’n gr. 7-leerder van Saxonsea Primêr, het uitgestaan en op die aand met die louere en ongeveer R2 600 se pryse weggestap.

Stanton en Mnr. SA-finalis, Heinrich Gabler, was die gassprekers van die aand en het van hul persoonlike lewenslesse met die atlete, ouers en verteenwoordigers van die skole gedeel.

Stanton, afkomstig van Mitchells Plein op die Kaapse vlakte, het vertel hoe sy ma as enkelouer vir hulle moes sorg. Dit het hom gemotiveer om beter te doen en bo sy omstandighede uit te styg.

Steeds nou betrokke by skole-rugbyprojekte onder die Saru-vaandel, kon Stanton nie uitgepraat raak oor al die sport-talent wat hy in Atlantis en Mamre raakgeloop het nie.

Een atleet wat ook uitgestaan het vanjaar was die sestienjarige Leroy Julie, ’n gr. 10-leerder wat permanent in ’n rolstoel is weens serebrale verlamming.

Weskus Nuus beoog om aanstaande jaar weer die Let’s Play-inisiatief te ondersteun en nooi nou al afrigters, ouers en skole om hul topatlete te identifiseer en in Januarie te nomineer.

You need to be Logged In to leave a comment.