Velocity-atletiekklub het Woensdag 25 Oktober gasheer vir Westelike Provinsie Atletiek (WPA) se eerste Street Athletics-saamtrek gespeel.
Atlete van verskeie plaaslike skole Saxonsea, Grosvenor, Hermes en Parkview sowel as Atlantis Vaardigheidskool en Hoërskool Robinvale en Meulenhof Primêre skool in Philadelphia was slaggereed vir die dag.
Die Street Athletics het na skool om 14:30 in Arion-rylaan plaasgevind en honderde inwoners van die nabygeleë Edinburgh-woonstelle het die verrigtinge ondersteun en ook deel geword van die aksie deur self aan die wedloop deel te neem.
Seuns en meisies tussen die ouderdom van ses en 17 kon teen ander atlete in 50 m tot 800 m deelneem.
Volgens Tashwell Adams, voorsitter van die Velocity-atletiekklub, het sowat 75 leerders aan die street athletics deelgeneem.
“Dit was ’n riem onder die hart om te sien hoe Atlantis se mense – veral Edinburgh-inwoners – ons kinders kom ondersteun.
Baie dankie aan almal in Atlantis wat die gebeurtenis hulle eie gemaak het,” het Adams gesê.
WPA het sewe ander soortgelyke straatatletiek-byeenkomste in ander gemeenskappe gehou, maar sê hulle het die warmste welkom in Atlantis gekry.
Volgens Adams kyk hulle ook nou na die moontlikheid om teen Desember ’n soortgelyke byeenkoms in ’n ander woonbuurt in Atlantis aan te bied.