Die Spesiale Ekonomiese Sone (SES) in Atlantis kan ’n mislukking wees indien staatsdepartemente nie ’n oplossing kan vind vir die sosiale siektes wat die gemeenskap treiter nie.
Só het Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, onlangs aan lede van die gemeenskap gesê.
Patel, wat die dorp Maandag 8 April besoek het, het met inwoners van die Dura-woonstelle en Witsand oor verskeie kwessies gepraat. Inwoners van Dura het aan die minister gesê hulle is keelvol om soos gevangenes in die woonstelblok te woon weens die voortslepende bendegeweld.
“Die gebrek aan voldoende ontwikkeling in Atlantis is iets wat my baie bekommer, want die miljoene rande se belastingvoordele wat die SES sal bring, vereis dat hier opgeleide mense sal moet wees. Die laaste ding wat ons nodig het is om vaardighede van buite te kry,” het Patel gesê.
Luvuyo Matshisi, burgerorganisasie-aktivis van Witsand, het aan Patel verduidelik dat inwoners al langer as 10 jaar sukkel om ’n skool in die gebied te kry.
Volgens Matshisi het die gemeenskap verskeie vergaderings met die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gehad oor die moontlikheid om ’n skool te bou. Matshisi sê leerders in die omgewing moet 04:00 opstaan om ’n bus te haal en 17 km na die Laerskool Meulenhof in Philadelphia reis.
Patel het aan inwoners en leiers in Witsand gesê dis absoluut noodsaaklik dat ’n skool in Witsand vir Witsand gebou moet word.
“Indien ons nie kinders in die skool kry nie, gaan die nodige vaardighede ontbreek om die SES-vereistes na te kom,” het hy gesê.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, het by navraag gesê die departement het reeds die behoefte vir ’n laerskool in Witsand identifiseer. Sy het voorts gesê die departement voer gesprekke met lede van die gemeenskap oor die beplanning van dié skool.
Volgens Hammond is net huurgrond tans beskikbaar. “Dit sal egter nie geskik wees vir ’n permanente baksteenstruktuur nie, ons het die departement van vervoer en openbare werke gevra om met die Kaapse Stadsraad te skakel om moontlike grond te help identifiseer,” het sy gesê.