Die moordenaar wat haar seun én man voor hul huis doodgeskiet het, sal jare lank agter tralies sit, maar ’n Atlantis-vrou sê sy is kwaad dat net een van die twee vermeende skieters moet boet vir die misdaad.
Marlene Koopman se man en twee seuns is in die bestek van ’n maand afgemaai.
“Ek is dankbaar geregtigheid het geskied, maar ek is teleurgesteld omdat die tweede verdagte skotvry buite rondloop,” verduidelik Koopman.
Haar man, Reginald, en seun, Michael Koopman, is Sondag 17 September 2017 in die vroeë oggendure in Robinvale koelbloedig doodgeskiet.
Die pa en seun is geskiet minute nadat Adrian Leonard (27) ook vir Ethan Cloete en Trudy Gomez in dieselfde straat afgemaai het.
Die Koopman-familie het destyds gesê Michael, wat by Atlantis Foundries gewerk het, het die Saterdag voor sy dood by sy pa in Abbotsdale gaan kuier, omdat Michael glo gesukkel het om sy broer, Randal, se dood te verwerk.
Michael het hierna sy pa saam Robinvale toe gebring om te help om hul muur reg te maak.
Die twee wou sigarette gaan koop toe hulle geskiet is.
Leonard, ’n vermeende bendelid, is Donderdag 2 Mei skuldig bevind aan al twee dubbele moorde. Hy het in die Wes-Kaapse Hooggeregshof lewenslange tronkstraf vir elk van die vier moorde ontvang.
“Ek kon in sy hartseer gesig sien hy het berou oor die dade en het hom daarom vergewe,” sê Koopman.
Koopman sê dit het in die hof uitgekom dat daar ’n tweede persoon saam met Leonard was. Hy wou niks oor die persoon verklap nie.
Sy sê wat die situasie nog erger maak, is dat haar ander seun, Randal, ’n maand voor die voorval in Mamre doodgeskiet is.
Randal se moordenaar is nog nie aangekeer nie.