Elsies keer dat Baggy Blues nie bevordering kry nie

Atlantis-krieketklub oftewel, die Baggy Blues het gemengde welslae op die krieketveld behaal en sy kanse op promosie in die niet laat verdwyn.


Atlantis-krieketklub oftewel, die Baggy Blues het gemengde welslae op die krieketveld behaal en sy kanse op promosie in die niet laat verdwyn.

Dié span het Saterdag 2 Maart Bellville-Suid met vier paaltjies geklop nadat die besoekers almal uitgeboul is vir 129 lopies.

Marchelino Bruintjies (9-2-35-3) en Freddy van Heerden (10-2-32-2) het uitgeblink met die bal. Justin Rooibaaitjie (53), Abe Henkelman (17) en Areldo Meintjies (15*) het verseker dat die Baggy Blues met vier paaltjies wen.

Die span se kanse vir bevordering is egter die naweek finaal belemmer toe die besoekende Elsiesrivier die tuisspan Saterdag met 99 lopies geklop het.

Elsies wat eerste gekolf het, het ’n skaflike 225/7 in sy toegelate 50 boulbeurte aangeteken met Marchelino Bruintjies (9-2-31-2) en Abe Henkelman (10-1-36-3) wat met die bal uitgeblink het. Die tuisspan se kolwers kon nie weerstand bied nie en slegs Rodger August (36) en Thayden Slavers (17) kon noemenswaardige bydraes met die kolf maak. Die span is almal uitgeknikker vir 126 lopies.

Die span speel eerskomende Saterdag sy laaste wedstryd teen Cravenby op Robinvale.

You need to be Logged In to leave a comment.