Facebook-vriend glad toe nie so hulpvaardig nie

Met die toenemende koste van basiese alledaagse benodigdhede, was dit vir Evelyn Matthys (31) van Atlantis ’n “antwoord op haar gebede” toe ’n Facebook-vriend ’n oplossing vir haar aanbied.


Met die toenemende koste van basiese alledaagse benodigdhede, was dit vir Evelyn Matthys (31) van Atlantis ’n “antwoord op haar gebede” toe ’n Facebook-vriend ’n oplossing vir haar aanbied.

Volgens Matthys, wat afhanklik van ’n rolstoel is, het sy eendag ’n boodskap op Facebook gekry van ’n ene Jefferson Clinton dat hy dalk die oplossing tot haar finansiële penarie het.

Sy vertel Clinton, wat glo eers op straat gebly het en nou finansieel sterk is, het gesê hy kan vir haar ’n lening by die instansie reël wat hom vinnig gehelp het.

“Ek moet eerlik wees ek het geglo al my gebede is uiteindelik verhoor toe hy my dié inligting meedeel. Ek het selfs my ouers, wat self soms sukkel om alles te dek met hul staatspensioen, van dié wonderlike geleentheid vertel.

Matthys vertel Clinton het haar glo meegedeel sy en haar ouers moet ’n administrasiefooi van R500 betaal.

Die geld is by ’n bekende kettingwinkel op “Sassa-dag” – gewoonlik die eerste dag van die maand – gedeponeer.

Daarna is Matthys meegedeel sy en haar ouers moet nog R850 elk vir versekering opdok en indien dié bedrag nie betaal kon word nie, kan die transaksie nie goedgekeur word nie.

Nadat die familie aan Clinton verduidelik het hulle kan nie die addisionele R850 bekostig nie, het hy net stil geword en van die Facebook verdwyn.

Weskus Nuus het self probeer om die man op Facebook op te spoor, maar dit blyk die spesifieke profiel is van die sosiale platform verwyder.

Die 60-jarige Eva Bezuidenhout, Matthys se ma, vertel hulle het by Clinton gepleit om liewer die R1 000 terug te betaal, maar het geen reaksie gekry nie.

“Ek kon nie eers my huur en ander skuldeisers betaal nie. Ek moes ander in die oë kyk vir geld vir brood,” vertel die bejaarde vrou.

Kapt. Cyril Dicks, ’n polisiewoordvoerder het bevestig dat daar ’n klag van bedrog deur die Atlantis-polisie ondersoek word.

Volgens die polisie is dit moeilik om die verdagte in so ’n saak op te spoor. Matthys sê sy hoop dat andere van hulle ervaring sal leer.

You need to be Logged In to leave a comment.