Sy wou nie meer ’n kêrel gehad het nie, want sy wil vir die Here werk.
Só vertel Shanice Plaatjies (18) se ma aan Weskus Nuus.
Plaatjies is Donderdag 7 Desember vermoedelik deur haar kêrel doodgesteek, glo omdat sy die verhouding verbreek het.
“My kind was die laaste week voor haar dood baie gelukkig,” vertel haar hartseer ma, Regina Plaatjies (49).
Plaatjies sê sy was by die werk toe Shanice, ’n matriekleerder by Saxonsea Sekondêr, ’n partytjie vir haar skoolvriende in die straat gehou het. Die partytjie was spesiaal vir almal wat geslaag het. Die verdagte, wat ook die partytjie bygewoon het, het toe handuit geruk.
“Ek weet nie presies wat gebeur het nie, maar volgens omstanders het hy eers Shanice se vriendin in die nek gesteek en daarna het hy Shanice aangeval en in die kop en nek gesteek,” vertel Plaatjies.
Shanice het op die toneel aan haar wonde beswyk. Die vriendin is na die Wesfleur-hospitaal geneem en is ’n paar dae later ontslaan.
Die 20-jarige man het hom dieselfde aand aan die polisie oorgegee. Volgens VGK Saxonsea-gemeente se jeugleier, Daniel Adonis, was Shanice reeds ses jaar ’n lid van hulle jeuggroep en een van baie min staatmakers. “Haar skielike dood laat ’n groot leemte omdat sy altyd daar en op tyd was,” sê hy.
Volgens Plaatjies sou haar dogter volgende jaar ’n kursus in maatskaplike werk gaan doen. Die familie soek steeds antwoorde.