Wyksraadslid Barbara Rass (regs) gesels met Wendy de Bruyn, Gertie Mavati en Benjamin Lewis.Foto: Murphy Roberts


Twee families van Disastraat in Proteapark het alles verloor.

’n Brand het Woensdag 1 November omstreeks 09:00 by Wendy de Bruyn se wendyhuis ontstaan en het, volgens De Bruyn, wat by haar bure Gertie Mavati en Pieter Mavati se wendyhuis, op dieselfde erf gekuier het, vinnig versprei.

De Bruyn deel haar woning met haar tweejarige baba en oom, Benjamin Lewis, terwyl die Mavati-egpaar saam met hul twee seuns, skoondogter en twee kleinkinders woon.

“Ek het by ouma (Mavati) gesit, want ons sou almal saam sentrum toe loop. Ons het gehoor hoe mense skree, ‘die plek brand’.”

Lewis, wat toe die brand uitgebreek het op die stoep gesit het, het brandwonde opgedoen nadat hy die vlamme trotseer het om “te red wat te redde is”. Maar dit was tevergeefs.

Die twee families het alles verloor en het slegs die klere aan hul lyf oor. “Ons kon darem ons Sassa-kaartjies red,” vertel Mavati, wie se man Pieter ook blind is.

Sy vertel verder dat hulle van 2004 af vir ’n huis wag.

“Daar is jong, gesonde mense wat huise kry terwyl ek en my man steeds wag.”

Intussen vertel Lewis hy is ook reeds van 1998 op die waglys. Wyksraadslid Barbara Rass het dieselfde oggend die families besoek om te kyk hoe sy hulle kan bystaan.

“Die Kanonkop-behuisingsprojek moet bespoedig word om sodoende sulke tragedies te verhoed. Dit is reeds die vierde geval in wyk 32 waar families alles in ’n brand verloor,” het Rass gesê.

Suzette Little, burgemeesterskomitee­lid vir die noordelike gebied sal bouwerk aan die Kanonkop-behuisingsprojek in Januarie 2018 begin.

“Twee boukontrakteurs is aangestel en die nodige reëlings is in plek om die 161 huise van fase 1 te voltooi,” het Little bygevoeg. Fase 1 van die Kanonkop-behuisingprojek, wat bestaan uit 200 huise, is al van 2012 aan die gang en moes na verwagting reeds in 2015 voltooi gewees het.

You need to be Logged In to leave a comment.