Foute word gerapporteer maar stadsraad kom nie

Watermerke loop teen die muur af soos nat verf. Die aanskakeling van die ligskakelaar word gevolg deur ’n ontploffing – donkerte.


Watermerke loop teen die muur af soos nat verf. Die aanskakeling van die ligskakelaar word gevolg deur ’n ontploffing – donkerte.

Dit is slegs enkele van die realiteite wat inwoners van woonstelle in Atlantis elke dag moet ervaar.

Esmé Booysen van Darters Place-woonstelle vertel hoe sy die vorige week twee keer by die “rent office” was om ’n lek in een van die badkamerspype aan te meld. “Ons gaan iemand uitstuur”, is sy belowe. Maar teen die tyd toe iemand kom kyk na die probleem was Booysen en haar gesin reeds enkelhoogte in die water, ná die pyp gebars het.

Ma Katriena Adams (81) se kinders was ontelbare kere reeds by die kantore om die lek in haar kombuis, toilet en slaapkamers aan te meld, maar nog niks.

“Ek was seker al 20 of 30 keer by die rent office om dit aan te meld, en ons wag steeds. Hulle sê elke keer hulle gaan mense uitstuur, maar dit gebeur nooit,” sê Karel Dulman, wat saam met haar woon.

Elizabeth de Bruyn (66) vertel dat sy tot drie gloeilampe per week moet koop. “Ek vervang elke keer die gloeilamp, wanneer ek dit aanskakel bars dit. Ek het dit in November 2015 reeds rapporteer en ek wag nog steeds.”

De Bruyn het onlangs ’n nuwe wasbak in die kombuis gekry, die met twee bakke. Die pype is egter so geroes dat sy drinkwater in die badkamer moet gaan tap.

“Ek is ’n pensioenaris en moet ander mense betaal om maintenance werk te kom doen, wat die council eintlik moet doen. As dit so aangaan gaan ons nie meer (huur) betaal nie.”

Martha Sinnett (78) is in ’n rolstoel as gevolg van die arthritis, dié is ook nou stukkend en so sukkel-sukkel sy maar deur die huis met haar kierie. Haar kinders en bure het soveel keer reeds die lekplek bo die toilet gerapporteer, “seker die woonstel bo ons se toilet wat lek,” verduidelik Sinnett. “Ek bid al dit moenie reën nie, anders word jy nat wanneer jy op die toilet sit. Ek vrees vir die dag dat ek gly en ’n been of arm breek,” sê sy.

Volgens Benedicta van Minnen, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, is daar ’n plan om huureenhede regoor die metropool, insluitend Atlantis op te gradeer. “Areas word gradeer volgens die kritiese aard van herstelwerk.”

Sy het ook genoem die Stad Kaapstad dra kennis van die lang wagtye as gevolg van ’n agterstand en daar is planne om hulpbronne aan te vul. Tans word daar prioriteit gegee aan gesondheid- en veiligheidskwessies.

Wyksraadslid Barbara Rass sê op haar beurt daar is in Augustus ’n mosie by die raad ingedien vir die opgradering van die woonstelle. “Ons wag steeds op ’n antwoord. Dit is vir my ook ’n groot bekommernis.” Rass sê voorts, inwoners het haar gekontak oor stukkende trappe, maar sê inwoners het tog ook ’n verantwoordelikheid om stukkende vensters ens. te vervang.

You need to be Logged In to leave a comment.