Gaan Dag Zero-planne werk?

Gebruik nou 50 F water per dag en help Dag Zero stuit, pleit die Stad Kaapstad by inwoners.


Gebruik nou 50 F water per dag en help Dag Zero stuit, pleit die Stad Kaapstad by inwoners.

Op 1 Februarie tree vlak 6 B-waterbeperkings in werking, wat beteken elke inwoner slegs 50 F water per dag mag gebruik.

Dag Zero word so gou as 12 April verwag. Watertoevoer na krane sal dus toegedraai word en slegs Kaapstad se sentrale sakegebied en uitgesoekte industriële gebiede sal van water voorsien word.

Skole, hospitale, informele nedersettings (omdat hulle reeds gebruik maak van afsetpunte vir water) en die Kaapstadse Internasionale Lughawe sal ook aanlyn bly. Inwoners sal dan vir water moet toustaan vir 25 F water per persoon per dag.

Helen Zille, die Wes-Kaapse premier, het egter verlede week op ’n televisie­ontbytprogram gesê dat Atlantis nie waterpunte gaan kry nie, maar die Stad voer aan dat die waterafsetpunte vir almal geld.

Volgens ’n mediaverklaring deur die Stad Kaapstad, sal gemeenskapspolisië­rings­forums en buurtwagte ingespan word om water by tehuise vir bejaardes te kry en “inwoners wat nie in rye wil gaan staan nie moet maar gebottelde water koop,” lui die verklaring.

Die Stad noem in die mediaverklaring dat daar 186 afsetpunte geïdentifiseer is, maar inwoners in die Kaapse Metropool is egter steeds in die duister oor waar die waterafsetpunte gaan wees en watter soort houers hulle kan gebruik om hul daaglikse kwota water te kry.

Volgens die Stad sal die inligting weekliks aan inwoners deurgegee word.

Patricia de Lille, burgemeester, het 2 November met ’n besoek aan die Atlantis-waterdraer gesê boorgate in die omgewing is opgeknap om ’n addisionele 5 miljoen F water per dag te produseer. Die waterdraer sal dan voortaan 9 miljoen F water per dag produseer.

“Alhoewel die toename in produksie verligting bring, werk die Stad daaraan om die produksie selfs die volgende paar maande meer te verhoog sodat Atlantis selfonderhoudend kan word en nie aanvullingswater van die Voëlvleidampyplyn hoef te gebruik nie,” het De Lille gesê.

Die water uit die Atlantis-waterdraer voorsien water aan huise in Atlantis, Mamre en Pella asook fabrieke in die industriële gebied.

Volgens ANC-raadslid Fiona Abrahams, het die Stad geen plan om die krisis te hanteer nie en weet selfs raadslede nie waar die waterpunte gaan wees nie. Abrahams het by die eerste subraadvergadering (Donderdag 25 Januarie) gevra dat EPWP-werkers aangestel word om met inwoners te praat oor die erns van die waterkrisis. Abrahams het uitgevaar teen die Stad en gesê hulle doen te min om inwoners bewus te maak van waterbesparing.

Subraadvoorsitter Cynthia Clayton het die idee om EPWP-werkers in te span verwelkom en belowe dat ’n dringende werksessie met raadslede en amptenare gehou sal word om die probleem aan te spreek en sodoende inwoners meer besparingsbewus te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.