Die nuwe moderne Pres Les-fabriek het ook ’n sprinkelstelsel wat in werking tree indien daar weer ’n brand sou uitbreek.Foto: Murphy Roberts


Die 250 werknemers wat in Pres Les se tekstielproduksiefabriek in Atlantis werk het die afgelope week rede gehad om verheug te wees.

Na amper twee jaar, is die nuwe, moderne fabriek uiteindelik op Vrydag 4 Augustus heropen.

Weskus Nuus het in 2015 berig hoe ’n brand op die aand van 27 Oktober by die perseel, wat hulle met AMC Cookware deel, uitgebreek het.

Brandbestryders het tevergeefs deur die nag gespook om erge skade aan die twee fabrieke te voorkom.

Skade aan die twee fabrieke het etlike miljoene rande beloop en werknemers het ’n swart Kersfees in die gesig gestaar.

“Soos ’n eenheid het die personeel saamgespan, ’n tydelike perseel is aangeskaf en die produksie was teen die einde van Februarie 2016 weer ten volle operasioneel,” vertel verkoop- en bemarkingsbestuurder, Lise de Kock.

Pres Les-bestuur is uiters trots op die feit dat nie een werknemer tydens die periode afgelê is nie en het die personeel steeds hulle volle salaris en voordele ontvang.

“Al die toerusting en masjinerie is tydens die brand verwoes. Vandag spog die nuwe fabriek met die mees moderne tegnologiese masjinerie, sê Aubrey Prince, fabrieksbestuurder, terwyl hy grap dat selfs hul skryfbehoeftes nuut is.

De Kock sê voorts, die onderneming se belegging in Atlantis met die herbou van die fabriek, bewys weereens hulle toewyding tot die ekonomie van die dorp en wys dat hulle daarop gemik is om produkte van uitstaande gehalte aan kliënte te voorsien.

Tydens ’n kort toespraak en ’n toer deur die nuwe fabriek het Prince aan die 328 werknemers, insluitend personeel van hulle Kaapstadse hoofkantoor, weereens elke personeellid, kliënt, en hulle verskaffers bedank, voor hulle met middagete bederf is.

“Dankie vir julle toewyding en kandoen-houding. Dankie dat julle so tegemoetkomend was en onmiddellik aan die werk gespring het,” het hy gesê. Prince het ook die aandeelhouers bedank vir hulle vrygewigheid nadat werknemers gedurende Maart vanjaar ’n addisionele bonus ontvang het.

Hy het afgesluit deur te sê: “Dit was ’n lang, uitdagende tydperk, maar ons het sterker anderkant uitgekom.”

Ryan Cox, besturende direkteur van AMC Cookware, het aan Weskus Nuus gesê herstelwerk aan dié fabriek is nog onderweg, maar behoort ook binnekort voltooi te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.