Gedrag is ’n element wat in elke persoon se lewe voorkom. Dit is die manier waarop jy optree.
Jou gedrag weerspieël jou karakter en verklap meer oor jou as wat jy moontlik besef. Dit is ’n visuele uitbeelding van wat in jou innerlike gedagtewêreld aangaan. Dit weerspieël jou drome, jou hartseer en jou geluk. Dit wys aan die wêreld wie jy werklik is.
Hoe pas gedrag en verslawing bymekaar?
Gedrag is veral belangrik in verslawing. Verslawing is ’n siekte, net soos enige ander siekte byvoorbeeld diabetes. Diabetes het sekere simptome wat daarop dui die persoon is siek. Net so het verslawing ook sekere tekens of simptome wat daarop dui dat ’n persoon verslaaf is. Hierdie tekens van verslawing kom in die persoon se gedrag na vore. Wanneer ’n persoon in aktiewe verslawing is, is daar sekere tekens wat daarop sal dui. Net soos wat daar negatiewe gedrag is wat aan ons uitwys dat iemand in aktiewe verslawing is, is daar ook sekere positiewe gedragsveranderinge wat aan ons kan uitwys dat iemand op die herstelpad is. Dan is daar verdere gedrag wat sal wys dat iemand hul herstelproses werklik uitleef. Indien iemand na die ou gedrag terugkeer, is dit ’n gevaarteken dat die persoon moontlik kan terugval.
Hoe lyk gedrag in aktiewe verslawing?
Dit belangrik om te onthou verslaafde persone is nie noodwendig slegte mense nie. Hulle is mense met ’n siekte.
Negatiewe gedrag is slegs ’n simptoom van die siekte van verslawing, soos wat koors ’n simptoom van die siekte van griep is.
Die gedrag of simptoom definieer nie die persoon nie. In aktiewe verslawing prioritiseer die verslaafde meestal hul gebruik voor enigiets of enige iemand anders. Die siekte is van so ’n aard dat die persoon die gebruik eerste sal stel, hul gedrag is dus van so ’n aard dat hul byna enigiets sal doen om die middels te kan gebruik.
Voorbeelde van hierdie gedrag is as volg:
. Oneerlikheid, manipulasie en diefstal om hul gebruik te ondersteun.
. Geheimsinnigheid.
. Isolasie van die res van die gesin.
. Die uitstel van ander belangrike take, soos om skoon te maak.
. Bring tyd deur saam met ander mense wat ook dwelms gebruik.
– Deur Janet Smit.