Duisende Afrikaanssprekendes het reeds die afgelope weke deelgeneem aan die Groot Afrikaanse Meningsopname, en daar word daagliks nuwe versoeke ontvang van Afrikaanses wat ook hul mening wil laat tel – en dalk R5 000 kontant losslaan.

Met meer as 100 vrae oor onderwerpe wat strek van die politiek en die ekonomie tot moedertaalonderrig, beloof die Groot Afrikaanse Meningsopname om unieke insig te gee in wat Afrikaanses dink oor hul lewensomstandighede, hul toekoms en hul plek in Suid-Afrika. Dié opname is ’n inisiatief van Media24, die Dagbreek Trust en Afrikaans.com.

Belangstellendes kan dadelik ’n e-pos met hul ID-nommer stuur aan inligting@forum24.com.

Die laaste van vier vraelyste verskyn Dinsdag 25 April op Forum24.com en al vier vraelyste gaan beskikbaar bly tot 3 Mei. Een gelukkige deelnemer kan ’n kontantprys van R5 000 wen.

Afrikaans.com se projekbestuurder, Milanie Vosloo, glo dat die meningsopname Afrikaanssprekendes sal help om mekaar beter te verstaan en ook beter te leer ken.

Sy sê, “Afrikaans.com behoort aan die diverse Afrikaanse gemeenskap en aan almal wat lief is vir die taal. Daarom probeer ons om op verskillende vlakke in voeling met die mark te bly om hul behoeftes en verwagtinge te verstaan en alle sprekers te laat deel in die lekker en positiewe van die taal.”

Volgens die navorsingskundige, Laura Kaufman van Forum24, wat die resultate gaan verwerk, groei die aantal deelnemers by die dag.

Sy beskryf die meningsopname as ’n seldsame geleentheid vir Afrikaanse mense. “Dit is ’n kans om jou stem dik te maak, oor enigiets van misdaad en tegnologie tot vermaak en mediaverbruik – en jy word vir jou deelname beloon.”

Belangstellendes wat ’n e-pos met hul identiteitsnommer na inligting@forum24.co.za stuur, sal dan per e-pos uitgenooi word om die vraelyste te voltooi. Hulle kom dan ook in aanmerking vir die kontantprys.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025