Gemeenskap eis, “geen borgtog”

Drie verdagtes verskyn vandag in die Atlantis-landdroshof op klagte wat verband hou met verkragting en seksuele aanranding.


Drie verdagtes verskyn vandag in die Atlantis-landdroshof op klagte wat verband hou met verkragting en seksuele aanranding.

In die drie afsonderlike insidente is die verdagtes bekend tot die klaagsters, waaronder ’n driejarige, sewejarige en 38-jarige vrou.

In die eerste voorval is ’n taxibestuurder, wat kinders na en van ’n dagsorgsentrum vervoer, in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n driejarige dogtertjiie na sy huis geneem het en aan haar “privaatdele geraak het.”

Volgens die slagoffer se pa, wie nie genoem mag word om die kind se identiteit te beskerm, is sy dogter later as gewoonlik deur die taxibestuurder afgelaai. “Hy het verduidelik dat hulle ’n nuwe roete volg. Sy het vreemd opgetree, wou nie eet nie en was nie haar bubbly self nie.”

Die kind het ’n paar dae later aan haar ouers vertel wat gebeur het.

Hulle het haar onmiddellik na die Thutuzela-sentrum geneem, die kind is ondersoek en ’n saak van seksuele aanranding is geopen. Die ander twee voorvalle het albei Saterdag 20 Mei plaasgevind. ’n Sewejarige gr. 2-leerder is na bewering deur haar 61-jarige stiefoupa verkrag.

Volgens die familielid wat hom betrap het, was dit so skuins ná 12 die middag.

“Ek was besig met my hare in die sitkamer toe hy die kleintjie winkel toe stuur vir entjies en ’n lolliepop.

“Ek het later my lipstiffie in die kamer gaan haal toe ek op die gruweldaad afkom.

“Hy het op sy knie gesit en vroetel met sy mond in haar privaatdele terwyl sy die lolliepop in haar mond het.

“Die siek ­pervert het nog aan my gesê sy het daarvoor gevra.

“Ons het onmiddellik die polisie laat kom en die man is by ’n nabye shebeen in hegtenis geneem,” sê die familielid.

Die kind se ouma en die man se eggenoot, sê: “Dit is om van siek te word.”

Die emosionele ouma het aan raadslid en kampvegter vir vroue en ­kinders, Barbara Rass, gesê sy en die verdagte is reeds 11 jaar in ’n verhouding en het vyf maande gelede getrou. Die hartseer ma sê hulle het hom as ’n pa en oupa aangesien en hy het elke Vrydag vir die kleinspan lekkergoed gebring.

In die derde voorval het ’n 22-jarige tikverslaafde sy 38-jarige ma na bewering in haar slaap verkrag. Die slagoffer se suster sê die voorval het tussen 17:00 en 18:00 gebeur. Die ma het glo op haar bed gelê en slaap toe die man haar verkrag.

Die verdagte het aanvanklik die hasepad gevat, maar is later vasgetrek. “My suster is baie getraumatiseerd en emosioneel.”

Rass het die families besoek en het sterk uitgevaar teen mense wat hul skuldig maak aan seksuele oortredings.

Gemeenskapslede het Dinsdagoggend voor die Atlantis-landdroshof betoog met plakkate en gesê hulle sal dit nie langer duld nie. Hulle het ook geëis dat verkragters borgtog geweier word.

“Wette soos die Poca-wet (wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad) moet ook teen verkragters gebruik word, want hulle word maar net later weer op parool vrygelaat,” sê Rass.

Past. Lionel Keyster, wat ook aan die betoging deelgeneem het, sê dit is ­totaal onaanvaarbaar en sê meer mans moet betrokke raak by sulke betogings.

Kapt. Cyril Dicks, polisie woordvoerder, het die voorvalle bevestig. Die verdagtes sal vandag formeel aansoek doen om borgtog.

You need to be Logged In to leave a comment.