Die verhouding tussen die polisie en die gemeenskap is gewis gesond en werp vrugte af, sê kapt. Cyril Dicks, ’n plaaslike polisiewoordvoerder.
Verskeie mans is die afgelope naweek in hegtenis geneem in verband met dwelmverwante aanklagte.
In een voorval is ’n man (23) in Witsand aangekeer nadat die gemeenskap sy adres aan die polisie gegee het. Volgens Dicks is die man met tik van sowat R11 000 betrap.
In nog ’n voorval is ’n man aangekeer vir handel in dagga en dwelms nadat die polisie inligting opgevolg het.
Inwoners het ook die polisie naaldgesteek oor ’n besending tik wat uit Tableview op pad Atlantis toe was. Volgens Dicks was twee mans besig met hul aflewering toe die polisie toeslaan.
’n Nigeriese man (36) van Tableview en sy 34-jarige makker van Atlantis is aangekeer toe die polisie tik ter waarde van R50 000 in hul motor gevind het.
Die polisie het nóg ’n verdagte wat probeer weghardloop het nadat hy die polisie in Buntingsingel, Robinvale, gewaar het, in hegtenis geneem.
Dicks sê twee polisiebeamptes het die man te voet agterna gesit en aangekeer. Tik en ’n speelgoedvuurwapen is in sy besit gekry.
Al die verdagtes het Maandag 27 Mei in die plaaslike hof verskyn.
Genl.-maj. Aneeqah Jordaan, sektorbevelvoerder van die Milnerton-polisie, en Michael Ledimo, die stasiebevelvoerder, het die gemeenskap vir hul bydrae tot misdaadbekamping bedank.