Geagte Vriend, Ma, Pa, Gemeenskap.
Dit is Vrydagoggend, 04:00. Dis koud. Die koffiewater kook. Die punt van my pen raak die bladsy. Ek skryf.
Ek doen ’n klein gebedjie: Here, gee rigting. Ek sit met ’n probleem. Nee, die problem is nie President Zuma en die Guptas nie. Hulle is reeds besig om te val. Die problem is eintlik die agteruitgang van ons mense. Ons mense van Pella. Ons mense van Atlantis. Ons mense van Mamre. Ons Weskusmense.
Ek het ’n plan en dit moet uitgevoer word. Dit brand in my binneste en karring aan my gewete, maar uit sal dit moet.
Ons makeer leierskap. Regte, ordentlike, standvastige en opregte leierskap. Nee, ek wil nie ’n pastoor of profeet word en my eie kerk stig nie. Daar is reeds te veel en hulle beteken niks. Selfs ons bure, Atlantis, is besmet met hulle. Veels te veel van die pastore buit net ons armes uit en maak net beloftes vir hul eie gewin.
Ons bid vir reën. Ons bid vir werk. Ons bid vir sonskyn. Ons bid selfs vir Zuma om te gaan en vir die doodstraf se terugkeer. Ek dink eintlik bid ons te veel en doen te min, en sommiges van ons doen glad niks.
En wat van ons toekoms? Ons lewendige toekoms. Ons jeug. Ons kinders. Wie beskerm en versorg ons mense se toekoms? Terwyl ons biddend op ons knieë is, stort ons jeug net verder en verder in duie. Vir alles wil ons optogte reël. March vir dié en march vir dat. En na die optogte het niks of baie min verander en ons kinders is steeds in die genadelose greep van dwelms en sterk drank.
Ons moet ophou om ons kinders tikkoppe te noem en om die skuld voor die druglords en merts se deure te plaas. Dis nie dwelmbase of smokkelaars se skuld dat ons kinders in hierdie hel is nie. Die skuld lê by óns, as gemeenskap. Die is ’n baie sensitiewe paadjie wat ek nou stap, maar stap gaan ek. Ek gaan vra, sommer baie mooi vra. Los jul kerke. Los jul lang gebede. Ek vra die mans om weer ons vrouens, ons kinders en ons gemeenskap te red en beskerm. Help my om ons kinders te help deur hulle te red van die dwelm- en sterk drankduiwels.
¦ John H. Benson is die voormalige burgemeester van die Blaauwberg-munisipaliteit, gemeenskapsleier en inwoner van Pella. Die menings in die rubriek is nie noodwendig die van Weskus Nuus, Boland Media of Media 24 nie.