Inwoners wat keelvol is dat die vroue in die gemeenskap deur verkragters geteiken word, het voor die Atlantis-landdroshof betoog.
Dié betoging het 2 Augustus by die Atlantis-landdroshof plaasgevind toe ’n vermeende verkragter vir borgtog aansoek gedoen het. Die sekerheidswag (27) se borgtogaansoek is voortgesit nadat dit op ’n vroeë geleentheid uitgestel is.
Die betogers het met dié verrigtinge daarop aangedring dat die man borgtog geweier moet word.
Volgens Babra Rass van die Atlantis-vrouebeweging, wat die betoging gelei het, is verkragters glad nie welkom in die gemeenskap nie.
Rass het gesinne van die slagoffers, wat ook deel van die betoging was, bemoedig en gesê hulle moet teen die boosdoeners opstaan, want “dan is die stryd al halfpad gewen.
“Verkragters is deesdae begrafnisondernemers, want hulle begrawe ook hul slagoffers,” het sy bygevoeg.
Die sekerheidswag word daarvan aangekla dat hy twee vroulike wagte in afsonderlike voorvalle verkrag het en ’n derde vrou probeer verkrag terwyl hulle saam nagskof gewerk het.
Volgens ’n ingeligte bron het die verkragter sy slagoffers “mooi uitgekies”.
Die bron vertel verder die verdagte het presies geweet wanneer die slagoffers op patrollies gaan en het dán toegeslaan.
Gedurende die eerste voorval wat 26 Junie plaasgevind het, was die sekerheidswag wat patrollie gaan doen het, net ná 02:00 op die perseel van die fabriek verkrag.
Die aanvaller het die vrou se hande en voete met haar skoenveters vasgebind, waarna hy die daad gepleeg het. Die beskuldige het ’n week later op ’n ander perseel weer met dieselfde modus operandi toegeslaan. Die twee slagoffers, onderskeidelik 28 en 31 jaar oud, beweer die verkragter het ’n masker gedra.
Presies ’n week later is ’n derde vrou geteiken, maar sy het haar aanvaller verras deur sy masker af te pluk, waarna hy op die vlug geslaan het.
Die slagoffer sê sy het die man herken as die wag wat as sekerheidswag by ’n nabygeleë fabriek werk.
Volgens die bron is ’n man in hegtenis geneem en het hy daarna ’n bekentenis afgelê.
Die beskuldigde se borgtogaansoek is geweier en die saak is tot 7 September uitgestel.