Weskus Nuus het met verskeie gemeenskapsleiers gepraat oor hulle voorneme vir 2017.
Cynthia Clayton, voorsitter van die subraad, het tydens hul eerste vergadering gesê amptenare wat “slap lê met dienslewering” gaan aangevat word.
”Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe moet suffer omdat amptenare traag is,” het sy verder gesê.
Ander projekte wat, volgens Clayton, aandag gaan geniet vanjaar is die Kanonkopbehuisingsprojek, wat reeds twee jaar stilstaan, sowel as die opgradering van woonstelle.
Michael Marote, voorsitter van die Atlantis Sakekamer, sê die grootste uitdaging vir 2017 gaan wees om die hoë werkloosheidsyfer aan te spreek.
“Ons wil ook graag kleiner besighede by die hand neem en hulle aan groter besighede voorstel, waar daar hopelik ook waardevolle vennootskappe gevorm kan word.”
Marote sê ook hy wil hê die gemeenskap moet die sakekamer as ’n platform gebruik om potensiële en gevestigde besighede te help.
Die Atlantis-polisie het in 2016 ’n opdraende pad gehad met gesinsgeweld, asook die plunder van nuwe huise en beskadiging van eiendom.
Sò meen stasiebevelvoerder, Zurelda Nortjé, by monde van die polisie-woordvoerder, kapt. Cyril Dicks.
Die grootste bydraende faktore is dwelms- en drankmisbruik, meen Dicks.
“Inwoners moet nie huiwer om familielede of bure wat probleme veroorsaak in die gemeenskap, te rapporteer nie,” sê Dicks. Die inligting kan anoniem deurgegee word deur 10 111 te bel.
Die polisie maan inwoners om met die polisie te werk deur inligting deur te gee en ook by ’n buurtwaggroep in jou area aan te sluit.
“Kyk uit vir voertuie wat dwelms aflewer en die tye wat dit gebeur, asook nuwe huise wat begin smokkel,” noem Dicks.
Een van verlede jaar se suksesse is die sowat 50 vuurwapens wat reeds teruggevind is in Atlantis in 2016, alles met behulp van waardevolle inligting deur die gemeenskap.
Die stasiebevelvoerder bedank ook graag die hele gemeenskap vir hul samewerking in 2016 en sien daarna uit om selfs groter suksesse te behaal in 2017.