’n Gesin van die Montery-plaas net buite Atlantis is amper hul huis kwyt nadat ’n boom op die huis geval het.

Volgens Jakob Bailey was dit “windstil” toe die boom Vrydag 15 Februarie op die huis geval het.

Carmen Sias, Bailey se dogter, vertel hulle het almal lekker rustig gesit toe die boom, wat langs die huis staan, besluit het om te val. Carmen voeg by dat die gesin, wat op die plaas woon wat in die ou Mamre/Darling-pad naby Witsand geleë is, reeds die week buite moes slaap omdat hulle bang is dat die huis se mure gaan meegee.

Volgens Bailey het die eienaar van die plaas gesê hulle is op hul eie risiko daar. “Ons woon al langer as 10 jaar hier en niemand is bereid om te help nie.”

Bailey vertel dat as dit nou moet begin reën, het hulle ’n groot probleem, want die een helfte van die huis is heeltemal oop. Ek moes die boom maar so stukkie vir stukkie opsaag om dit uit die pad te kry. “Ek weet nie waar die hulp vandaan gaan kom nie – ek sal maar sien en kyk,” het Bailey gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.