Gesin slaap in rioolwater weens verouderde pype

’n Gesin van Falcons Place in die Dura-woonstelle moes vir ’n hele week in riool­water slaap.


’n Gesin van Falcons Place in die Dura-woonstelle moes vir ’n hele week in riool­water slaap.

Volgens Katrina Olifant (54) wou amptenare van die Stad Kaapstad haar nie help nie.

Olifant vertel dat sy by ’n gebedsessie was toe haar dogter bel om te sê die hele huis is vol rioolwater.

“Ek is vinnig terug huis toe en tot my skok was my hele huis vol bollie.”

“Die gemors het in die toiletpot opgestoot en die uitvoerpyp het ook agter die pot gebars,” verduidelik Olifant.

“Ons moes vir ’n hele week net die gemors opvee terwyl ons wag vir werkers om dit te kom regmaak. Eers ná ’n volle week se soebat en smeek het hulle die gemors kom regmaak.”

Met Weskus Nuus se besoek aan die familie het die stank nog sterk in die kamers gehang en die vloere was nog nat.

Die gesin moes ook van hul kos en beddegoed weggooi.

Volgens Olifant het rdl. Cynthia Clayton, voorsitter van subraad 1 ’n skeepsvrag­houer vir hulle gereël om tydelik in te woon.

“Ons is nie ondankbaar nie, maar die skeepsvrag­houer vries in die nag en skollies skuil ook agter dié houer. Hier word gereeld geskiet en die container is onveilig vir ons.”

Volgens Clayton is dit op die gebied se hoofstelsel waar die probleem ontstaan het en hulle het spoedig reageer en wou alles so gemaklik as moontlik vir die familie maak.

Barbara Rass, raadslid van wyk 32, het by die subraad se maandvergadering gevra dat daar na al die woonstelle se rioolstelsels gekyk word aangesien dit baie oud is.

You need to be Logged In to leave a comment.