Gewapende rowers wat te voet vlug. Skreeuende bande, soos polisievoertuie hulle agterna sit. ’n Oor en weer geskietery.
Dit klink soos tonele uit jou gunstelingaksiefliek, maar dis die toneel wat Dinsdag 14 November omstreeks 11:00 in die Atlantis-middedorp afgespeel het.
Vier gewapende rowers het besigheidseienaars in die parkeerterrein van die Atlantis City Mall voorgekeer en wou hulle beroof. Skote is in die lug geskiet en flinke reaksie deur die polisie het gesorg dat die rowers sonder die buit moes vlug. Die motor waarin hulle gereis het, wou ook nie aan die gang kom nie en die mans het almal verskillende rigtings gehardloop.
Kapt. Cyril Dicks, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê twee verdagtes is aangekeer en daar is op twee vuurwapens beslag gelê. Weskus Nuus verneem die rowers is glo van Nyanga en Kraaifontein en dit is steeds onbekend of dit dalk ’n “binnemisdaad” was.
Intussen het inwoners hulle na sosiale media gewend oor die algemene veiligheid by Atlantis City Mall.
Een inwoner het gesê, “bestuur gee glad nie om vir ons veiligheid nie, want daar is hopeloos te min sekuriteit.”
Volgens Tony September, operasionele bestuurder by Atlantis City Mall, is die sentrum een van die veiligste in die Wes-Kaap, want dit was die eerste gewapende roof in die 12 jaar van die sentrum se bestaan. September sê egter die voorval sou nie plaasgevind het, indien die besigheidseienaars om hulp (ekstra sekuriteit) gevra het nie. Volgens September word sekerheidsmaatreëls vroeg in Desember opgeskerp om inwoners se veiligheid te waarborg.


