Drie gewapende mans het Maandag 14 Augustus in ’n gewapende rooftog ’n winkeleienaar van ’n groot bedrag geld beroof.
Volgens informele handelaars by die bedrywige Atlantis-winkelsentrum, wie nie genoem wil word nie, het die rowers nie omgegee wie almal in die omgewing was nie en het hulle met die boks geld laat spaander na die nabygeleë taxistaanplek, waar ’n wit motor na bewering op hulle gewag het.
Volgens die eienaar van die groothandelwinkel in die winkelsentrum, was hy en ’n werknemer skuins na 11:00 op pad bank toe om die geld te deponeer.
Hy vertel voorts dat die geld in ’n kartonboks verpak is en het hy, soos in die verlede, na die bank gestap deur die sentrum. “Drie onbekende gewapende mans het vuurwapens teen my gedruk en geëis dat ek die boks moet oorhandig, ten aanskoue van mense wat daar inkopies doen. Alles het in ’n oogwink gebeur,” vertel die besigheidsman, wat vir sekerheidsredes anoniem wil bly.
Die kleinhandelaars vertel verder dat die mans heeltyd daar in die omgewing was, maar niemand het vermoed dat hulle gewapende rowers was nie.
Hulle is ook van mening dat die sekuriteit by die sentrum dringend opgeskerp moet word.
Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê dat niemand nog hegtenis geneem is nie. Die ondersoek duur voort.