Geweld by skool wek kommer

Veiligheidsmaatreëls by Atlantis Sekondêre skool is nou opgeskerp.


Veiligheidsmaatreëls by Atlantis Sekondêre skool is nou opgeskerp.

Dit volg nadat drie leerders Dinsdag 27 Februarie deur medeleerders op die skoolterrein aangeval en met ’n mes gesteek is.

Die vermeende aanvallers, twee neefs ’n gr. 10- en gr. 12-leerder, het gedurende eerste pouse toegeslaan en twee matrikulante en ’n gr. 11-leerder aangeval en verskeie kere met messe gesteek.

Volgens ’n bron by die skool is die drie leerders deur die twee neefs aangeval ná ’n skietvoorval voor die skool Woensdag 24 Januarie.

Volgens skoolhoof, Charles Marthinussen, is die atmosfeer tans by die skool “ontspanne en leerders is weer gefokus”.

“Die Safe School-projek is gefinaliseer en sekerheids­beamptes is onmiddellik aangestel en sowat 34 kameras is geïnstalleer,” het hy gesê.

Marthinussen sê die strenger sekerheid sal gemoedsrus by leerders en ouers skep en onderwysers doen alles in hul vermoë om die moraal by die skool te lig.

Hy sê ook hoewel die voorval nie ligtelik opgeneem kan word nie, help die sigbaarheid van polisielede voor en na skool baie en voel leerders reeds veiliger.

Die neefs het sedert die aanval nog nie weer vir skool opgedaag nie. Volgens ’n ma van een van die slagoffers is haar kind drie keer in die rug gesteek.

Die ma is woedend omdat die aanvallers glo ook reeds voorheen moleste by die skool gemaak het.

Die bron meen die moontlike rede vir die aanval kan wees dat al vyf leerders familielede het wat met bendegroepe van die opponente verbind kan word.

Volgens kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder dra die polisie kennis van die voorval, maar geen saak is nog aanhangig gemaak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.