Atlantis- en Witsand-gemeenskapslede tydens die Eskom LTO-bewusmaking in die Saxonsea-gemeenskapsaal op 10 Julie. Foto: David Rossouw

In ‘n poging om die publiek groter insig in die beoogde Langtermyn Operasie (LTO) van Koeberg se Eenheid 2 te bied, het Eskom in Julie ‘n reeks openbare bewusmakingsessies in die Wes-Kaap en Namakwaland aangebied. Die sessies was deel van ‘n uitreikingspoging om gemeenskappe in te lig oor die lisensie-aansoekproses én om hul vrae, bekommernisse en verwagtinge aan te hoor. Die byeenkomste is in Athlone, Atlantis, Table View, Concordia (NamaKhoi-munisipaliteit) en Garies (Kamiesberg-munisipaliteit) gehou. Velaphi Ntuli, kernbeampte-hoof by Koeberg, het op elke sessie beklemtoon dat Eskom voortbou op 40 jaar van veilige werking. “Gemeenskapsbetrokkenheid is die sleutel tot ‘n volhoubare pad vorentoe,” sê hy.

In Atlantis het inwoners op die bewusmakingsessie met eerlikheid en empatie gedeel oor hoe die LTO-proses hul daaglikse lewens beïnvloed. WeskusNuus het met etlike inwoners oor hul indrukke van oor Eskom se openbare uitreiking gesels.

Gary Lewis het die behoefte aan deursigtigheid onderstreep.

“Eskom het my vrae beantwoord, maar ek is nie ‘n kenner oor veiligheid nie, so ek moet op kundiges vertrou. Wat wel uitgestaan het, is die min tyd vir vrae wat die publiek nie ‘n regverdige kans gegee het nie. My grootste bekommernis bly deursigtigheid.”

Seymour Daniels het die praktiese impak op jongmense en ontwikkeling uitgelig.

“Toe ek daar aankom, het ek min geweet van wat die LTO regtig behels. Maar ek het baie geleer – dit gaan nie net oor kerntegnologie nie, dit raak ons daaglikse lewe. Ons gemeenskap het betroubare krag nodig; vir skole, vir besighede, vir gesinne.

“My grootste bekommernis is dat plaaslike kontrakwerkers dikwels uitgesluit voel. Hulle kry nie genoeg inligting oor werksgeleenthede en programme nie. Eskom en vakbonde moet meer sigbaar wees, hulle moet die skole besoek en werksessies aanbied . . . ’n Webwerf is nie genoeg nie. Kinders moet dié geleenthede kan ervaar, nie net daarvan hoor nie.”

Vakbonde soos NUM, Solidaritiet en NUMSA het inligting oor werkskepping en vaardigheids- ontwikkeling gedeel – met die boodskap dat die verlenging van Eenheid 2 meer as tegnologie is; dit is ‘n belegging in mense en dorpe.

Gemeenskappe verwelkom die uitreik en verwag volgehoue betrokkenheid en ondersteuning.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article