Skitterende verdediging het daartoe gelei dat die grafkelder (die sportveld van Young Hearts van Pella), nie in rou gelaat was na die kwarteindstryd teen Young Spurs van Doringbaai nie.
Die tuisspan het die wipplankstryd Saterdag 16 September met 23-19 gewen. Doringbaai het van die afskop aanvallende rugby gespeel en het beslis respek verwerf vir sy vernuf en veggees.
Young Hearts het met die wind van agter sy eerste punte behaal toe Jade Solomons sy arms moes strek om die eerste drie van die wedstryd te druk. Kirwan Snell het beslis sy skopskoen by die huis vergeet en het maklike doelskoppe verbrou.
Die besoekers het verwoed aangeval, maar kon nie punte aanteken nie, danksy die tuisspan se hardnekkige verdediging.
In die 22ste minuut het Kuan Apollis, Pella verder laat voorloop toe hy ’n pragtige individuele drie aangeteken het.
Daarna het Doringbaai die eerste helfte oorheers en twee verdoelde drieë behaal om met 14-10 voor te loop. Pella moes toe homself regruk en Snell het met drie minute op die klok in die eerste helfte, ’n skitterende skepskop oorgeklits.
In die doodsnikke van die eerste helfte het Pella se haker en kaptein, Bernard Snell, na skitterspel van al sy voorspelers in die hoekie, ’n onverdoelde drie behaal en die manne het rustyd geniet met Pella wat 18-14 voorloop.
Young Spurs het die Pella-ondersteuners geskok toe die span in die eerste minuut van die tweede helfte ’n onverdoelde drie behaal het om met 18-19 voor te loop. Pella het egter twee minute daarna ook ’n onverdoelde drie aangeteken om die telling 23-19 te maak.
Vir die laaste 37 minute was daar net een span op die veld, die Doringbaaiers. Die span het aanvallende rugby gespeel, maar kon net nie punte aanteken nie. Pella se verdediging was skitterend en hy het sy voorsprong met alle mag en mening beskerm.
Young Spurs het ook foute gemaak, maar Pella kon dit nie uitbuit nie. Die span het daarin geslaag om so een of twee keer naby Spurs se pale te kom, maar hy was teruggedryf.
Voor die eindfuitjie blaas, is Young Hearts ’n strafskop voor die pale toegedien. Selfs stoere Pella-ondersteuners kon nie glo toe hy besluit om te dryf in plaas van pale toe skop nie.
Saterdag 23 September het Pella vir Bredasdorp in ’n halfeindstryd op Wellington gepak. Meer hieroor in die volgende uitgawe.