Die Milnerton-kluster se gemeenskapspolisëringsforum (GPF) het Donderdag 8 Maart sy jaarlikse skoolskoenprojek afgesluit deur 600 paar skoolskoene en sokkies aan leerders te oorhandig.
Volgens Abdul Tajoodien, voorsitter van die Milnerton-kluster GPF, het hy dié projek vyf jaar gelede van stapel gestuur met slegs vyf paar skoene en nou vyf jaar later is dit een van die grootste projekte van sy soort in die gebied.
Tajoodien meen hy sou nooit die projek kon verder neem sonder die polisielede in die groep se insette en ondernemings in die streek se bydrae nie.
Die skoene is aan die volgende polisiekantore geskenk: Milnerton (100), Tableview (50), Melkbos (50), Atlantis (100), Malmesbury (100), Darling (50), Moorreesburg (50), Riebeeck (50) en Philadelphia (50).
Elke polisiekantoor is dan verantwoordelik om met die skole in hulle omgewing te werk om behoeftige leerders te identifiseer.
Die organiseerders hoop om volgende jaar 700 paar skoene en sokkies in te samel en moedig alle ondernemings in die streek aan om ook betrokke te raak.