Saxon Sea Sekondêr spog met ’n splinternuwe verbruikersstudieklas danksy GrandWest Casino.
Die klas, met agt nuwe stowe, yskas, mikrogolfoond en nuwe werkoppervlaktes, is 4 Mei deur die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Albert Fritz en hooggeplaastes van GrandWest en Wes-Kaapse onderwysdepartement geopen.
Fritz het in sy toespraak die privaat sektor bedank omdat hulle die lewe van jeugdiges vergemaklik en opvoeding aanmoedig. Hy meen die nuwe klaskamer kan leerders van Atlantis, Mamre, Pella en Darling – waar misdaad, armoede, werkloosheid en dwelmmisbruik hoogty vier – help om hulself vir die onthaalbedryf voor te berei.
Volgens Fritz, het sy departement met die finansiële boekjaar R17,7 m vir jeugontwikkeling opsy gesit om geleenthede vir die jongspan te skep.
Volgens Mervin Naidoo van GrandWest, is die belegging van R300 000, die minste wat hulle kan doen en hulle het self die oorsieningswerk van die projek gedoen.
Skoolhoof Deon Claasen sê omdat Atlantis gebuk gaan onder bendebedrywighede en die hoë tikverbruik onder jongmense, is die skool vir baie ’n plek van veiligheid. “Leerders het nou die geleentheid om hul kennis en vernuf uit te leef en dit alles te danke aan GrandWest,” het Claasen gesê. Hy se voorts baie leerders is afhanklik van die skool se voedingskema vir iets te ete en baie ouers sukkel om die nodige toerusting vir hul kinders te koop en dít is wat hierdie donasie so merkwaardig maak.