In reaksie op die artikel “Partye teken appèl aan”, Weskus Nuus (Dinsdag, 30 April 2019) wil GreenCape graag oorsigtelik konteks gee as terugvoer.
Die Atlantis spesiale ekonomiese sone se gemeenskapsbelange-groepnetwerk (ASES GBN) dien as ’n kommunikasiekanaal tussen die ASES, multi-belangegroepsforums, strukture en die Atlantis-gemeenskap.
Die konsep van die ASES GBN is op 15 November op ’n vergadering aan die Atlantis-gemeenskap voorgelê en is op dieselfde vergadering aanvaar. Die verkiesing van lede van die ASES GBN by wyse van sektorverkiesing was volgende en stemgeregtigde verteen-woordigers van geregistreerde en aktiewe gemeenskapsorganisasies kon vir hul voorkeur-benoemdes stem om op die ASES GBN te dien. Dié verkiesing het einde Januarie plaasgevind en ’n hoof jaarvergadering is 7 Februarie gehou. Partye is ’n geleentheid gegee om besware aan te teken.
GreenCape, wat deur die gemeenskap afgevaardig is om die verkiesingsproses te behartig, het vier appèlle ontvang, wat aan die Atlantis SES-bestuurskomitee oorhandig is vir beslissing. Die komitee, wat bestaan uit verteenwoordigers van al drie regeringsvlakke, het deur die appèlle gewerk en die bewyse wat voorgelê is deeglik ondersoek. Geen voldoende bewyse is gevind om die resultaat van die verkiesing ter syde te stel nie. Deeglike terugvoer is aan die applikante gegee. ’n Publieke verslag is ook na afloop van die verkiesing aan die oorsigkomitee verskaf. Die ASES-bestuur verwelkom konstruktiewe terugvoer wat help om te verseker dat programme en prosesse bydra tot die volhoubare bevordering van gemeen-skapsbelange. Vir inligting kontak GreenCape by 021 577 2719 (verkort).