Groente- en veeboere dra by tot eie voedselsekuriteit

Inwoners van Atlantis, Mamre en Pella is Maandag (12 Desember) vereer vir hul bydraes tot volhoubare voedselsekuriteit-inisiatiewe.


Inwoners van Atlantis, Mamre en Pella is Maandag (12 Desember) vereer vir hul bydraes tot volhoubare voedselsekuriteit-inisiatiewe.

Die projek deur die Wes-Kaapse departement van landbou het ten doel om inwoners aan te moedig om hul eie voedsel te produseer. Dit is in 2011 van stapel gestuur en vanjaar het 68 voedseltuine ingeskryf vir die kompetisie.

Alan Winde, minister van ekonomiese geleenthede, het die wenners by ’n geleentheid by die Pella Morawiese skool geprys vir hul proaktiewe benadering tot die verbetering van voedselsekuriteit in hul huishoudings en gemeenskappe.

Magdalena Haas (64) van Goedehoopstraat in Saxonsea is een van die naaswenners in die veeboerdery-kategorie. Sy het 10 kuikens en 10 henne wat elke dag ’n dosyn eiers lê. Hierdie eiers gebruik Haas in die huis, deel met bure en verkoop selfs daarvan om kos aan te koop vir die hoenders. Derhalwe het sy ook ’n groentetuin met rooibeet, blomkool, uie en tamaties.

“Die groentetuin en eiers maak ’n groot verskil aan my maandelikse uitgawes. Al wat ek hoef te koop, is vleis.”

Winde het op sy beurt gesê die groentetuine speel ook ’n belangrike rol om werk te skep in gemeenskappe. Die afgelope drie jaar het die departement van landbou sowat R1,8 miljoen in voedselsekuriteit-inisiatiewe in die streek belê.

“Inisiatiewe het gewissel van starter kits vir huishoudelike tuine tot projekte by plaaslike skole. Ons is bly om toegewyde vennote in die bevordering van voedselsekuriteit te hê.”

Winde het ook genoem, ons ervaar tans die ergste droogte sedert 1904. Dus het die departement ’n vennootskap met die nasionale departement van water en sanitasie om watertenks beskikbaar te maak aan tuiniers wat hulle in staat sal stel om reënwater op te vang.

“Daar is ook verskeie ander maatreëls wat inwoners kan gebruik om groentetuine te onderhou tydens waterskaarstydperke.”

Winde sê hy wil ook graag inwoners regoor die provinsie aanmoedig om hierdie voorbeeld te volg.

You need to be Logged In to leave a comment.