Groep onttrek hom van betogings

Die Atlantis Concerned Citizens-groep het homself van die betogings onttrek.


Die Atlantis Concerned Citizens-groep het homself van die betogings onttrek.

Voorsitter Mishka Ganief meen hulle was nie Sondag 26 Augustus tydens ’n gemeenskapsvergadering ’n kans gegun om terugvoering aan die gemeenskap te gee nie en sommige inwoners het besluit om Maandag aan onwettige betogings deel te neem. Inwoners het verlede week ’n memorandum met hul misnoeë aan subraad 1-voorsitter, Cynthia Clayton, oorhandig.

Volgens Ganief is ’n vergadering Vrydag 24 Augustus met Clayton en subraadbestuurder, Wessie van der Westhuizen, belê.

Die terugvoering was as volg:
. Probleme met waterrekeninge moet by die raad aangemeld word.
. Twee addisionele mense sal van Maandag aangestel word om inwoners met hoë waterrekeninge en foutiewe meters by te staan.
. ’n Vergadering met die direkteur van waterwese sal hierdie week gehou word om kwessies aan te spreek.
. Altesaam 46 gesinne sal teen middel September hul huise by Kanonkop ontvang – elektrisiteit word hierdie week geïnstalleer.
. Mense wat geïdentifiseer was vir fase 1 en nog nie huise gekry het nie, sal in fase 2 ingepas word waar 1 120 huise gebou gaan word.
. ’n Oudit sal gedoen word om vas te stel of alle huise wettiglik toegeken is.
. Daar sal gekyk word na alterna­tiewe oplossings om agterplaasbe­woners te help met behuising op die grond wat geïdentifiseer is vir GAP-behuising.
. Altesaam 40 lede van die gemeenskap sal aangestel word om met die beplande oudit te help.

Teen druktyd Maandag was daar nog geen teken van die beplande onwettige betogings nie. Volgens ’n provinsiale polisie­woord­voerder, het die polisie reeds vroegoggend twee mans met ’n bakkievrag vol motorbande in hegtenis geneem. Daar word geglo die mans sou die bande aan die brand steek om paaie af te sper tydens betogings.

You need to be Logged In to leave a comment.