‘Grootte Springfontein deel van Atlantis’

Die storm oor die ontwikkeling van die plaas Grootte Springfontein naby die Silwerstroomstrand wil net nie bedaar nie.


Die storm oor die ontwikkeling van die plaas Grootte Springfontein naby die Silwerstroomstrand wil net nie bedaar nie.

“Dié plaas behoort aan die Atlantis-gemeenskap en as gevolg van politieke inmengery is dit nie vandag só nie,” meen Kevin Momberg, ’n voormalige raadslid in die oorgangsraad van die eens Blaauwberg-munisipaliteit.

Volgens Momberg het hy kennis omdat hy voorsitter was van die komitee wat destyds die Springfontein-kwessie vir die raad moes monitor.

Momberg beweer die plaas is in 1973 deur die destydse Apartheidsregering van twee susters, wat die grond geërf het, gekoop nadat dit 25 Februarie 1972 ingevolge die Groepsgebiedewet as ’n sogenaamde “kleurling-gebied” verklaar is om deel van Atlantis te vorm.

Die susters Lochline Bekker en Luceel Beukes het volgens hom meer as R700 000 van die Nasionale Party vir die plaas wat 1 200 ha groot is, ontvang.

Momberg meen die onluste van 1976 het die ontwikkelingsplanne vir die plaas op ys gesit. Die susters se kinders het egter in die jare negentig ’n grondeis vir die plaas ingestel. Dié bewering word bevestig deur hofdokumente in Weskus Nuus se besit.

“Dit sou die kroonjuweel van Atlantis wees en die Blaauwberg se munisipale komitee het alles in sy vermoë gedoen om te verseker dat dié grond, soos beplan was, weer aan Atlantis behoort,” verduidelik Momberg.

Hy sê enkele dae voor die hofsaak oor dié grondeis het hulle opdrag van die topstrukture van die NP in die Wes-Kaap gekry om die komitee te ontbind.

“Dit was ’n terugslag vir Atlantis en die hof het ten gunste van die aansoekers besluit,” verduidelik Momberg.

Ian Nielson, tans onderburgemeester van Kaapstad, was destyds die ondervoorsitter van die komitee sê Momberg.

Volgens Nielson kan hy nie onthou of hy wel op die komitee gedien het nie en kan ook nie onthou waarom die komitee ontbind moes word nie. Harry May van die Surplus Peoples Project sê dié groep het in 1996 aansoek gedoen as amicus curiae (vriend van die hof) en het in hofdokumente aangevoer dat die eisers reeds regverdige en billike vergoeding ontvang het met die onteiening en is nie geregtig op terugbetaling nie.

Dié aansoek is van die hand gewys.

Die Atlantis-heropbou- en ontwikke­lings­forum se aansoek om in te gryp ingevolge reël 13 van die Grondeisehof (enige persoon wat geraak word deur ’n eis en wat nie ’n party in ’n saak is nie, kan binne ’n redelike tyd nadat hy of sy bewus geword het van die saak aansoek doen om verlof tot inmenging in die saak) is egter deur die hof op 23 Julie 1997 verwerp.

Inwoners van Atlantis meen egter hulle moet toegang tot die grond van Grootte Springfontein hê aangesien dit, volgens hulle, deel van die groter Atlantis is.

You need to be Logged In to leave a comment.