Twee werkers van die Stad Kaapstad is verlede week op slag dood nadat die bakkie waarin hulle gery het, met ’n vragmotor gebots het. Foto:


Twee van die Stad Kaapstad se werkers is Maandag 23 Julie op slag dood nadat hulle met ’n vragmotor, wat gasbottels vervoer, op die Philadelphia-pad gebots het.

Die oorledenes was op pad na Atlantis toe hulle verongeluk het. Altwee het op die toneel aan hul beserings beswyk en moes uit die wrak met meganiese toerusting gesny word.

Volgens ’n kollega van die oorledenes het hulle vir die Stad se rioolafdeling in Mitchells Plain gewerk. Atlantis se rioolwerk val onder dié werkeenheid se diensgebied.

Een van die oorledenes is van Atlan­tis, terwyl die ander een, ’n vakleerling, van Delft is. In hierdie stadium is dit steeds nie bekend wat presies die botsing veroor­saak het nie. Provinsiale polisiewoord­voerder, sers. Noloyiso Rwexana, het bevestig ’n saak van strafbare manslag word nou ondersoek.

Volgens ’n werker van die Stad is die vermoede dat die twee ’n U-draai met die bakkie wou maak toe hulle die aankomende trok, wat in Kaapstad se rigting onderweg was, getref het.

’n Polisiebron beweer die bakkie wou die vragmotor verbygaan toe die botsing plaasgevind het.

Hy sê voorts die onge­luk was “onvermydelik” aangesien die vragmotor plek vir die bakkie wou maak, maar die bestuurder het toe in dieselfde rigting geswenk. Die bakkie het toe onder die vragmotor beland.

Die pad was vir ure gesluit as gevolg van die botsing omdat dit ’n veiligheidsrisiko inhou, het ’n verkeersbeampte aan Weskus Nuus gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.