Vier mense is Saterdag in die vroeë oggendure op slag dood en ’n ander in ’n kritieke toestand nadat die motor waarin hulle gery het, teen ’n boom gebots het.
’n Polisiebron sê die bestuurder het glo beheer oor die motor op die ou Mamre-Darlingpad by die ingang van Atlantis verloor.
Die bron vermoed verder dat die bestuurder waarskynlik teen ’n vinnige spoed gery het. Volgens hom het die bestuurder hom met die draai misgis. Die motor het deur die reling gebars en teen die boom tot stilstand gekom. Die motor se dak was afgeskeur en met Weskus Nuus se besoek was die insittendes se lyke reeds verwyder.
Die passasiers, almal van Delft, is glo uit die motor geslinger. Dit is nie bekend waarom die insittendes Atlantis in die vroeë oggendure besoek het nie. Omstanders op die toneel meen die draai kan misleidend wees, veral as motoriste nie die pad ken nie. Volgens polisiewoordvoerder, kapt. Cyril Dicks, word ’n klag van strafbare manslag ondersoek.