Die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone (SEZ) is hier en is ’n werklikheid.
Dit is volgens amptenare van die departement handel en nywerheid wat Donderdag 8 Februarie ’n vergadering met rolspelers in skoolsaal van Proteapark Primêr gehou het.
Volgens Sipho Solfafa, van die departement, is Atlantis se SEZ die sewende van sy soort in Suid-Afrika. Hy het bygevoeg inwoners moet die geleentheid met beide hande aangryp om hulleself te bemagtig.
Solfafa het egter erken kleiner ondernemings suig gereeld aan die agterspeen omdat die meeste geld aan gevestigde maatskappye gaan.
Hy het kleinsake ondernemings gemaan om hulleself gereed te kry vir die geleenthede wat gaan kom, “anders gaan julle weer verloor”.
“Daar is geld en ander hulpbronne beskikbaar wat tans nie benut word nie,” het Solfafa gesê.
Wyksraadslid Barbara Rass het met haar spreekbeurt die departement bedank vir sy bereidwilligheid om kleiner ondernemings te help. Sy het bygevoeg dat ’n volledige opleidingsentrum in Atlantis moet opgerig word en dat die departement meer toeganklik moet wees vir mense om finansiering te kry.
“Vroue en mense met gestremdhede moet ook by die SEZ baatvind. Hier kom ’n geleentheid vir plaaslike ondernemings om Atlantis se besigheidsvernuf ten toon te stel,” meen Rass.
Volgens sakeman, Mervin Davids, het plaaslike kleinhandelaars reeds bewys hulle beskik oor die kapasiteit om goeie diens te bied toe hulle vennootskappe met groter kontrakteurs aangegaan het om die nuwe tronk in Malmesbury en die Atlantis-hof te help bou.
Solfafa meen ook dat die registrasieproses dalk baie ondernemings se ondergang kan wees, omdat eienaars nie reg geadviseer word nie. Hy het ook voorgestel dat eienaars ’n forum stig en uit een mond praat omdat “verskillende komitees en forums kan ook bydra tot die ondergang van ondernemings”.
Volgens die departement het vyf beleggers in Atlantis reeds R680 miljoen belê met ’n verdere R1,8 miljard wat binnekort op die kaarte kan wees.