Atlantis Harriers-atletiekklub se vierde halfmarathon het verlede Saterdag ’n rekordgetal atlete na die Wesfleurpark-sportgronde getrek.
Die gunstige weertoestande het vir baie opwinding gesorg. Volgens Desmond Arendse, voorsitter van Atlantis Harriers, het daar 943 atlete aan die 21,1 km-halfmarathon en 300 atlete aan die 5 km-pretloop deelgeneem.
Die mansafdeling is deur Nadiel Wilschut van die Lions of Africa Itheko-atletiekklub gewen in ’n tyd van 65 minute en 35 sekondes, 51 sekondes stadiger as die rekordoorwinning op dié baan, wat in 2014 deur Lungile Gongqa behaal is.
Denzil Paulse en Rayden Balie van die Wild Runners-atletiekklub het onderskeidelik tweede en derde geëindig.
Die vroueafeling van die halfmarathon is deur die plaaslike atleet Lee-Shay Willemse in ’n tyd van een uur, 23 minute en 10 sekondes gewen. Dié 24-jarige atleet van die Velocity-atletiekklub het behoorlik hakskene aan die ander vroueatlete gewys en het van die wegspring die voortou geneem en nie weer teruggekyk nie.
Candyce Hall van Carbanees-atletiekklub het in die tweede plek geëindig, terwyl Sophie Cope die derde plek behaal het.
Willemse, wat maar vier jaar aan atletiekbyeenkomste deelneem, sê die Atlantis Harriers-halfmarathon was haar derde probeerslag. In 2015 het sy derde geëindig en verlede jaar tweede.
Die 5 km-pretloop het ook heelwat aandag geniet en baie van die deelnemers het vir die eerste keer ingeskryf. Bernedette Solomons en Priscilla Cornelius van Atlantis het hulle eerste pretloop opgesom as, “pret” en sê hulle gaan dit beslis weer doen.
Die twee sê hulle het die advertensie vir die pretloop gesien en besluit om in te skryf, sonder enige voorbereiding, “ons doel was net om die pretloop in minder as ’n uur te voltooi en ons het dit gedoen,” voeg Solomons by.


