Hamba Kahle, oom Jan

’n Groot gees het onlangs onder die sokkergeledere in Atlantis geval.


’n Groot gees het onlangs onder die sokkergeledere in Atlantis geval.

Oom Jan van Graan, stigterslid en lewenspresident van Jomos Power, het Woensdag 26 April op die ouderdom van 83 jaar gesterf.

Outai, soos hy alombekend staan, het die laaste twee jaar gesondheidsprobleme ervaar en is telkemale gehospitaliseer. In sy goue jare was hy ’n gereelde gesig langs die sokkerveld – hy was soos een van die spelers, het van kant tot kant beweeg en het ook soms geskop soos ’n doelskieter wat ’n doel behaal het.

Van Graan het 15 kinders gehad, nege seuns, almal sokkerspelers in die Jomos Power oftewel, Blou Duiwels-span.

Van sy 33 kleinkinders en agterkleinders was of is nog betrokke by die klub. Tydens ’n spesiale sport-gedenkdiens het Claude Brown, voorsitter van die Atlantis Sokkervereniging, Ernie Adams, voorsitter van Jomos Power en sportadministrateur Trevor Lombaard, almal hulde gebring aan dié sportheld.

Daar is klem gelê op die rol wat Oom Jan en sy weduwee in die sokkergeledere in die Atlantis-omgewing gespeel het.

Die Jomos Power-sokkerklub is gedurende die laat 80’s gestig en spelers moes Saterdae en Sondae na die destydse Killarney “vlak” reis om wedstryde te speel. Volgens sy seun, John, het sy pa gelewe vir sokker en veral Jomos Power. “My pa laat ’n legacy agter en ek vertrou dat die klub vorentoe sal groei”.

You need to be Logged In to leave a comment.