Die Geeltrein van Mamre het Saterdag 12 Augustus op alle silinders op Mamre geloop, toe hulle Rangers met 45 – 24 vermorsel het.
’n Mens kon ’n speld hoor val toe Rangers in die eerste 10 minute met 7 – 0 voorgeloop het. Daarna het Hamlets hulleself reggeruk en meeste tye opwindende rugby gespeel.
Jody Jacobs, Keanon Okkers, Eudene van der Merwe en Deego Arends het voor rustyd agter die pale gaan kuier. Dalyn Arends het met drie doelskoppe geslaag om Hamlets met 26 – 7 teen halftyd te laat voorloop.
Van der Merwe (2) en Okkers sowel as Babatjie van Niekerk het in die tweede helfte gedruk. Okkers en Van Niekerk het ook elk ’n doelskop behaal. Die tweede span wen met 18 – 17.
- Verkeerde besluite in die laaste tien minute het tot Hamlets se ondergang gelei toe hulle op 5 Augustus op hulle tuisveld teen Villagers met 20 – 19 verloor het. Teen rustyd was hulle met 19 – 17 voor. Die wipplankstryd was teen ’n geweldige pas gespeel. Villagers het reeds in die eerste vier minute die voortou geneem toe hulle met ’n strafskop geslaag het. In die 10de minuut van die wedstryd het Hamlets weer die voortou geneem toe skrumskakel Nicky Fortuin ’n drie gedruk het. Keenan Okkers het met die doelskop geslaag.
Hamlets se voorsprong was egter van korte duur toe Villagers onmiddellik na die afskop teruggeslaan het met ’n verdoelde drie om met 10 – 7 voor te loop.
Hamlets het egter hulle man gestaan en Jody Jacobs het skitterende spel gelewer. Okkers het misluk met die doelskop. Villagers het ook daarna ’n sewepuntdrie behaal om met 17 – 12 voor te loop, Okkers het weer agter die pale gekuier en Daylon Arends het die doelskop oorgeklits – rustydtelling van 19 – 17.
- Na rustyd het Villagers nog ’n strafskop deur die pale gejaag om met 20 – 19 voor te loop. Hamlets was op die aanval, maar die besoekers het uitstekend verdedig en die tuisspan verhoed om nog punte aan te teken. Hamlets wou die wedstryd met ’n bonuspunt wen en hulle het drie maklike strafskoppe kantlyn toe in die laaste 10 minute van die spel geskop.
Saterdag 19 Augustus speel hulle hul laaste ligawedstryd van die seisoen weg teen Kraaifontein.Hulle speel ook van 2 September in die Presidentsbekerkompetisie. - Saterdag sal Pella-sportveld ’n miernes van bedrywigheid wees wanner Young Hearts hulle laaste Boland SwartWeskus-wedstryd teen Young Eagles speel.
Die manne van Pella moet net die wedstryd wen dan sal hulle kwalifiseer om in Boland-rugby se top-12 te speel. Pella se reuseoorwinning van 66 – 22 Saterdag 12 Augustus oor Goedverwacht en die feit dat Paternoster teen Hopefield vasgeval het en slegs twee bonuspunte verdien het, maak die pad vir Reuben Abels se span oop. Paternoster het sy ligaverpligtinge voltooi en eindig met 52 punte. Indien Pella wen, eindig hulle met 53 punte en eindig ook dan tweede op die punteleer. Pella se tweede span het Saterdag met 13 – 16 verloor. In hul laaste wegwedstryd op 5 Augustus het hulle skitterend gevaar toe hulle Paternoster tot ’n gelykopuitslag van 14 – 14 gedwing het. Net twee spanne dring deur na die top-12 in die liga. Die wedstryd op Paternoster was ’n skouspel en albei spanne was goed gedissiplineerd. Paternoster het vroeg in die eerste helfte met twee strafskoppe geslaag voordat Jade Solomons ook ’n strafskop vir Pella oorgeskop het.
Die gasheerspan het ’n onverdoelde drie behaal nadat die bal op Pella se doellyn uit ’n losskrum gespat het. Kort voor rustyd het Solomons nog ’n strafskop behaal na ’n skrumoortreding van die tuisspan. Rustyd was Paternoster met 11 – 6 voor. In die tweede helfte het Young Hearts skitterend aangeval en het Solomons ’n strafskop oorgeskop nadat Paternoster vir ’n skrumoortreding gestraf is. In die 30ste minuut van die wedstryd het Young Hearts die voortou geneem toe die plaasvervangerslot, Gert Apollis, vir ’n drie oorgeval het. Met 14 – 11 voor en twee minute op die klok het Pella oortree. Paternoster het die strafskop oorgeskop om sake gelyk te maak. Die manne van Pella het skitterend verdedig in die wedstryd en hulle het ook goed geskrum en hul lynstaanwerk het verbeter.
Atlantis se tweede ronde top-6 Westelike Provinsie Suidelike liga het Saterdag weg teen Peninsula begin. Atlantis se eerste span het met 29 – 12 en hulle tweede span wen met 27 – 22.
- Saterdag speel Atlantis ook weg teen Thistles. Hul eerste tuiswedstryd is op 26 Augustus teen Rocklands.
- Mamre het op sy tuisveld seker gemaak dat hy volgende seisoen weer in die Boland Swartwes-uitdaagliga gaan speel toe hy sy laaste wedstryd van die seisoen op 29 Julie teen Never Despair met 28 – 22 gewen het. Verder is daar ’n moontlikheid dat Boland die ligastruktuur volgende seisoen gaan verander.
Bradwin Prins twee drieë en Edwill Okkers twee strafdoele en een doelskop het Mamre se punte aangeteken.