Hamlets onoorwonne ná vier wedstryde

Hamlets het Saterdag 6 Mei in hul nuwe truie geskitter in ’n Westelike Provinsie Super Liga B tuiswedstryd teen Collegians.


Hamlets het Saterdag 6 Mei in hul nuwe truie geskitter in ’n Westelike Provinsie Super Liga B tuiswedstryd teen Collegians.

Die geeltruie het ses drieë gedruk en net een afgestaan en die besoekers in ’n oorwinning van 39-13 verniel.

Teen rustyd was Hamlets 17-6 voor nadat Jody Jacobs en Mynhardt Clayton elk ’n drie behaal, en Keenon Okkers twee doele en ’n strafskop oorgeklits het. Collegians het twee strafskoppe behaal.

Hamlets se agterspelers Adrian Februarie, Deego en Dalyn Arendse het in die tweede helfte asemrowende drieë behaal. Al drie spelers het vanaf die middellyn genael na foute deur Collegians. Clayton druk ook sy tweede drie in die tweede helfte terwyl Okkers nog ’n doelskop behaal het.

Hamlets het Saterdag 13 Mei teen Hand and Hearts van Kraaifontein te staan gekom. Die geeltruie is steeds onoorwonne ná vier wedstryde met ’n 43-41-oorwinning. Die rustydtelling was 24 elk. Hamlets se ander spanne het ook gewen: tweedes 31-05, derdes 29-20 en o.20’s: 27-5.

SHamlets speel Saterdag 20 Mei weg teen St. Georges op Gustrowpark in die Strand.

  • Atlantis-rugbyklub: het Saterdag 6 Mei sy eerste sege in die Westelike Provinsie se Noordelike Liga behaal toe hy Silver Leaves op Mitchell’s Plain met 12-7 geklop het. Die draaitelling was sewe punte elk en Atlantis se wendrie is kort voor die eindfluitjie behaal. Dit was ’n goeie oorwinning vir Atlantis en die spelers sal vorentoe alles gee om onder die voorste spanne in die liga te kom.

Atlantis het Saterdag 13 Mei teen Thissels, een van die voorlopers in die liga, gepak. Die besoekers het Atlantis net-net op tuisveld gewen met ’n telling van 22-19 geklop.

S
Die span reis Saterdag na Sandvlei, waar hulle teen Peninsula sal speel en op 27 Mei speel hulle tuis teen Noordelikes.

  • Mamre-rugbyklub het Saterdag 29 April sy Boland Grootuitdaag Swart-Wes ligawedstryd teen Abbotsdale in ’n wegwedstryd 32-37 verloor. Teen rustyd was die span 17-10 voor. Abbotsdale het in die doodsnikke sy wendrie behaal.

Puntemakers: Steve Adams, Jason Agullas, Edwill Okkers en Brian Prins (drieë), Duwayne Cupido het (2 strafskoppe en 3 doelskoppe).


SMamre is nou eers weer op 20 Mei in aksie wanneer hy op Malmesbury vir Never Despair pak. Op 27 Mei speel hulle tuis teen nog ’n agteros Vredenburg.

  • Young Hearts (Pella): die span het Saterdag 29 April op sy tuisveld teen Samoa van Moorreesburg verloor. Die eindtelling van die Boland SwartWeskus Streek ligawedstryd was 30-25.

Die skeidsregter het in die laaste vyf minute twee drieë van Pella nie toegeken nie nadat die lynregter in albei gevalle beslis het dat die bal vorentoe aangegee is.

Volgens Pella se afrigter Ruben Abels, het die skeidsregter sy besluite verander nadat Samoa hewig protes aangeteken het en die Moorreesburgse lynskeidsregter ook van besluit verander het.

Hy is ná die wedstryd deur Samoa se bestuur van die veld gelei omdat ondersteuners vrae gestel het oor sy omstrede beslissings.

Young Hearts het Saterdag 13 Mei vir Young Eagles 30-19 geklop in ’n wegwedstryd. Die tweedes het ook 10-5 gewen. SSaterdag pak hulle Paternoster op Pella.

You need to be Logged In to leave a comment.