Hamlets-rugbyklub is steeds onoorwonne ná tien wedstryde in die WP se sewestoernooi wat reeds drie weke aan die gang is en beklee die eerste posisie in Afdeling C.
Die span van Mamre het Saterdag 3 November weer skoonskip gemaak in sy vier wedstryde wat hy gespeel het en het slegs 12 punte afgestaan terwyl hy 138 punte vir die dag aangeteken het.
Die span het Manenburg Rangers met 20-0 geklop en het daarna op al sy silinders gevuur en Collegians met 41-0 geklop. Die polisiespan het ook deurgeloop (40-5) waarna Hamlets die dag afgesluit het met ’n oorwinning van 37-7 oor Scottsdene.
Hamlets het agt van sy tien wedstryde gewen en het twee gelykop gespeel. Atlantis wat in afdeling D speel, het ’n verbetering getoon toe die span een wedstryd gewen, een verloor en een gelykop gespeel het. Die span beklee na week drie die agtste plek in sy groep.





