Hamlets verspeel kanse

Hamlets-rugbyklub het Saterdag op sy tuisveld ’n gulde geleentheid deur sy bottervingers laat glip toe die span teen Young Peoples van Paarl met 17-22 vasgeval het.


Hamlets-rugbyklub het Saterdag op sy tuisveld ’n gulde geleentheid deur sy bottervingers laat glip toe die span teen Young Peoples van Paarl met 17-22 vasgeval het.

Hamlets het vanaf die afskop beheer geneem en was gou in die besoekers se kwartgebied, maar Diego Arends het met ’n oop doellyn wat wink die bal aangeslaan. Die besoekers het egter weerstand gebied en het beheer oorgeneem.

Hamlets moes meeste van die verdedigingswerk doen en die besoekers wat voor die wedstryd die agtste plek op die punteleer beklee het, het die tuisspan se foute behoorlik uitgebuit om teen rustyd met 17-0 voor te wees.

Hamlets wat voor die stryd in die gesamentlike tweede plek was, het egter ná rustyd ondersteuners se harte warm laat klop met goeie hardlooprugby en het sake gelyk gemaak.

Die tafel was toe gedek vir ’n goeie einde.

Die besoekers het sake vir die tuisspan maklik gemaak met swak dissipline en het met ’n rooi kaart en twee geelkaarte in die laaste 25 minute, die wedstryd met 13 manne voltooi.

Die tuisspan kon nooit die voordeel benut nie en die besoekers het met twee spelers in die kas ’n onverdoelde drie aangeteken om 22-17 voor te loop.

Hamlets het die laaste 10 minute van die wedstryd behoorlik tent in die besoekers se kwartgebied opgeslaan, maar hanteerfoute het die span verhoed om die uitklophou te plant.

Die besoekers het met slegs 13 spelers op die veld hul lywe op die spel geplaas en met aggressiewe verdediging die tuisspan verhoed om die doellyn oor te steek.

Verkeerde besluitneming het egter die skaal in die besoekers se guns behou en met sekondes oor het Robin Davids besluit om ’n dwars skop te gee in plaas van om met die agterlyn te probeer.

Die tuisspan het egter die bal gewen en het net die bal oor die kantlyn geneem vir die skeidsregter om die eindfluitjie te blaas.

Hamlets reis eerskomende Saterdag na Mitchells Plain waar hy Collegians pak.

¦ Die Boland-grootuitdaagreeks se tweede ronde word ook eerskomende naweek voortgesit.

Young Hearts van Pella, wat die tweede plek op die punteleer beklee, sal wil voortbou op sy eerste ronde vertoning en het almal aan die gons oor die spelers se goeie spel. Die span reis na Hopefield op soek na nog ’n bonuspuntoorwinning.

Mamre, wat al in die eerste ronde al sy wedstryde weg moes speel, sal wil vergoed vir sy eerste ronde vertoning en kan dalk laaste lag, want die span speel al sy wedstryde tuis.

Velddrif besoek die groen truie die komende naweek.

You need to be Logged In to leave a comment.