Hamlets vlymskerp teen All Saints

Hamlets se rugbyklub het Saterdag op sy tuisveld die span van Somerset-Wes, All Saints, ’n behoorlike rugbyles geleer toe die besoekers 53-3 met die kous oor die kop huis toe gestuur is.


Hamlets se rugbyklub het Saterdag op sy tuisveld die span van Somerset-Wes, All Saints, ’n behoorlike rugbyles geleer toe die besoekers 53-3 met die kous oor die kop huis toe gestuur is.

Die tuisspan, wat rustyd 29-3 voor was, se bonuspunt is reeds in die eerste helfte aangeteken en hy het altesaam nege drieë gedruk.

Die span van Gavin Passens het in die agt wedstryde nou reeds sewe keer agtereenvolgens gewen en is tans vierde op die punteleer, al het Hamlets drie wedstryde minder as die voorlopers gespeel.

Volgens Albert Warnick, die klub se wedstryd-sekretaris, gee die 22-tal hul alles en dit is moeilik om een speler uit te sonder.

Warnick meen hul ondersteuners speel ook ’n belangrike rol in die span se vertoning, omdat hulle in hul massas by tuis- sowel as wegwedstryde opdaag.

Volgens Warnick wil die span die Westelike Provinsie se Superliga B en ook die presidentbeker wen om vir WP se Superliga A te kwalifiseer.

Die span pak komende Saterdag Vineyards van Paarl tuis en sal op sy wenvertoning wil voortbou. Young Hearts van Pella het Saterdag Velddrif in die Grafkelder in ’n wedstryd wat meer as 100 punte opgelewer het, naelskraap 53-50 geklop. Die tuisspan, wat rustyd 24-19 voor was, het met 15 minute speeltyd oor 50-24 voorgeloop.

Die besoekers het weer eens gewys dat rugby die hele 80 minute gespeel word. Velddrif het egter nooit opgegee nie en sake met ’n blitzkrieg van vier drieë gelyk gemaak. Met die telling 50 elk het beide spanne hard gewerk vir die oorwinning, maar die tuisspan het die wedstryd verseël met ’n skepskop sekondes voor die eindfluitjie.

Pella is met die oorwinning steeds in die sesde plek op die punteleer.

Young Hearts het die komende naweek ’n harde taak wanneer hy na Vredenburg reis. Die span van Reuben Abels het die potensiaal om die Burg Boys op sy tuisveld te troef.

Mamre, wat die naweek ’n blaaskans geniet het, sal die naweek op sy rits goeie vertonings wil voortbou wanneer hy op Langebaan gaan speel.

Die Groen Truie, wat tans die vyfde plek op die punteleer beklee, kan St. Helenbaai, wat dié naweek ’n ruskans geniet, met ’n oorwinning uit die vierde plek druk.

You need to be Logged In to leave a comment.