Huldeblyke het die afgelope week van heinde en ver ingestroom vir Rowland Hermanus wat Dinsdag ná ’n beroerte gesterf het.
Hermanus was ’n bekende in Atlantis en betrokke by verskeie sportkodes, maar veral krieket was sy passie.
Hy het sedert 2016 by Boland-krieket as ’n data-administrateur gewerk en het ook op spesiale projekte gewerk.
“Een van Rowland se groot passies was krieketontwikkeling. So, wanneer ek iemand nodig gehad het om skole en klubs met geldinsameling te help, was hy altyd bereid om te help. Hy het die klubs gehelp om sowat R2 miljoen in ses maande in te samel,” vertel James Fortuin, uitvoerende hoof van Boland- krieket. Angelo Cornelissen, president van Boland-krieket het op sy beurt gesê hy onthou Rowland as ’n uitstaande klubspeler in die jare tagtig.
“Ek het hom leer ken as ’n passievolle krieketman,” het hy bygevoeg.
Rowland was ook ’n voormalige speler, kaptein en voorsitter van die Atlantis-krieketklub, oftewel die Baggy Blues.
Hy het die afgelope paar jaar ook getrou gehelp om Atlantis-sport in die koerant te bemark deur sportberigte vir Weskus Nuus te skryf.
Rowland laat sy vrou, Priscilla, dogters Sandy en Rolene en seun Rowan sowel as twee broers en drie susters na.
Begrafnisreëlings as volg:
. Dinsdag 31 Julie om 19:00 – biduur by Robinvale-sportterrein.
. Donderdag 2 Augustus om 19:00 –gedenkdiens by Robinvale-sportterrein.
. Saterdag 4 Augustus om 08:00 – besigtiging vir familie by Alleghenysingel 29, Sherwood Park en die begrafnisdiens om 09:30 by die Anglikaanse kerk, Avondale.