‘Hier is ’n rot en hy’s groter as ’n dassie . . .’

“Die rotte het tot ’n gat in die muur gevreet,” sê Sonia Beukes (68) van Avondale. “Dit dryf my behoorlik teen die mure uit.”.


“Die rotte het tot ’n gat in die muur gevreet,” sê Sonia Beukes (68) van Avondale. “Dit dryf my behoorlik teen die mure uit.”

Beukes is ’n diabeet en volgens haar is van die rotte groter as ’n kat.

“Hulle vreet alles wat voorkom,” wys sy na die blik wat die deksel van weggevreet is. Beukes beweer die rotte terroriseer haar só dat sy haar al vuilgemaak het en ook byna haar nek gebreek het toe sy van die trappe afgeval het van skrik vir dié gediertes. “Dat ’n rot ’n mens kan beroof van jou menswaardigheid is ’n werklikheid,” vertel die ouma na aan trane. Volgens Beukes het sy twee maande gelede die kombuis gebruik, want die rotte is self dáár in beheer. “Ek moet net brood gryp en weer sorg dat ek in my kamer kom.” Sy vertel ook sy sukkel steeds met diarree en moet mediese sorg kry.
“Met my hande in die hare het ek byna elke dag na die raadskantoor gestap om die mense van dié probleem in te lig, maar alles is verniet.”

Inwoners van die woonstelle in Avondale sê die rotteplaag is al lank ’n probleem en niemand doen iets aan dit nie. Volgens een van Beukes se buur­vroue, Audrey Stringer, het hulle al die raadslid gebel, maar hy was besig. “Ons gaan ’n petisie aan die raadslid oorhan­dig, want só kan dit nie aangaan nie.” Nóg ’n buurvrou, wat nie haar naam genoem wil hê nie, vertel van die massiewe rot wat hulle gevang het en doodgemaak het. “Die rotte vat behoorlik hier by ons oor.” Beukes vertel sy het ’n kennis wat vir Stad Kaapstad werk oor dié probleem ingelig en mense is na hulle gestuur. “Die gif wat hulle vir ons gegee het werk soos ’n bom, maar nou is die reuk in my huis ondraaglik,” vertel sy. Wyksraadslid Cynthia Clayton sê sy het “alles in haar vermoë gedoen” om die probleem aan die betrokke amptenare oorgedra. Sy sê ’n lang termyn oplossing moet gevind word.

You need to be Logged In to leave a comment.