“Dit het soos ’n ligte aardbeweging gevoel.”

Só vertel Rowena Carstens van Mamre nadat stormsterk wind ’n gebou van ouer as 60 jaar omgewaai en haar skoonpa se motor in ’n wrak omgeskep het.

Carstens vertel dat sy die trilling Dinsdagnag (23 Julie) terwyl sy geslaap het, gevoel en eers gedink het dis ’n aardbewing, maar het gou besef iets is drasties verkeerd toe mense buite angstig gegil het. Sy sê die skok was groot en sy moes deur ’n dokter behandel word.

Haar man, Marlon, wat nagskof gewerk het, vertel dat alles voorkom kon gewees het as die Stad Kaapstad nie so met hul bouplanne sloer nie.

Volgens die Carstens-gesin het hulle reeds in Mei bouplanne ingedien om die mankolieke gebou af te breek.

Hy sê die stad se beplanning- en omgewingsbestuurafdeling, het hulle in ’n brief, wat in Weskus Nuus se besit is, meegedeel dat spesiale toestemming eers van Wes-Kaapse Erfenis verkry moet word omdat die gebou ouer as 60 jaar oud is, voordat die planne goedgekeur kan word.

“Almal trek nou die skouers op terwyl ons met derduisende rande se skade sit,” sê hulle.

“Wat my egter boos maak, is toe ons hulle vertel dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat die ander helfte gaan val en dat dit dié keer dalk iemand se lewe kan kos, ons deur dieselfde departement in ’n brief aangesê is ons kan maar die ander helfte afbreek,” sê Marlon.

Die Castens’e wil nou weet wat het dan skielik van die “erfenis” geword?

Die egpaar win regsadvies in omdat hulle voel dat iemand by die Stad Kaapstad verantwoordelikheid moet aanvaar.

Weskus Nuus het die Stad Kaapstad vir kommentaar genader.

Die Stad het die navraag na die Wes-Kaapse Departement van Erfenis verwys.

Teen druktyd is egter nog geen terugvoer ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.