Robinvale se o.19-sokkerspan het net-net in die eindronde van die jaarlikse Grey Kollege- Nedbank-sokkertoernooi vasgeval. Foto: Verskaf


Sedert die Hoërskool Robinvale se destydse deelname aan die jaarlikse Grey Kollege-Nedbank-toernooi kon die skool se o.19-sokkerspan nie sukses behaal nie, maar hierdie jaar het hulle aansienlik verbeter en talle sokkerskole verbaas toe hulle tot die eindstryd gevorder het.

Volgens Elrique Snyders, die spanbestuurder, het hulle in 2023 op spanbou gefokus en hulle vir die 2024-toernooi teen die land se beste skolespanne voorberei – veral die Grey Kollege Nedbank-toernooi.

Die span het baie van die hoog aangeskrewe skolespanne laat les opsê en baie sokkerkenners verbaas met die hoëgehalte sokker wat hulle in die toernooi opgedis het. Vanjaar het hulle vir die kwarteindronde gekwalifiseer deur Westville Boys High 2-0 en daarna Wynberg Boys High 2-1 in die halfeindronde te verslaan.

Hulle het egter in die eindstryd teen die verdedigende kampioen, St. Stithians College, te staan gekom en goed gevaar voordat hulle in die laaste paar minute gestruikel en met 2-1 geklop is.

Die span wat uit die laaste jaar se matrikulante bestaan het, het hulle goed van hulle taak gekwyt en kan trots voel op hul prestasie. Twee minderjariges, onder 14 en onder 15, is op die toer saamgeneem as voorbereiding vir volgende jaar om hulle ’n voorsmakie te gee wat op hulle gaan wag, het Snyders gesê. “Net een speler het ’n besering opgedoen, wat in ons guns getel het. Die span is ná elke wedstryd in yskoue baddens vir 15-20 minute geplaas om beserings te verhoed en daarom kon ons sulke goeie vertonings in die kwart- en half-eindstryd lewer.

“Ons het nie net tweede geëindig nie, maar ons het ook die beste speler van die toernooi opgelewer – die kaptein, CJ van Zyl, wat sy span baie goed op en weg van die veld gelei het,” het hul afrigter, Lewis Klassen, gesê.

Die span bedank die skool, alle ouers en borge vir hul ondersteuning wat dit vir die seuns moontlik gemaak het om aan die toernooi deel te neem.

.

.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025