“Ek wil my man nog net eenkeer vashou.”
Dit was Woensdag die treurlied van Renei Kruger nadat haar 32-jarige man vroeër die oggend in ’n kruisvuur tussen twee opponente-bendes beland en in die proses noodlottig raak geskiet is.
Brent het net ná 08:00 hul jongste dogter by die dagsorg in Ardennestraat, Beacon Hill gaan aflaai, terwyl Renei vir hom by die huis gewag het.
Volgens ooggetuies op die toneel, het twee opponent-bendes oor-en-weer op mekaar geskiet en was hy in die kruisvuur vasgevang. Volgens ’n polisiebron is hy eenkeer in die sy raakgeskiet. Hy het 50 meter verder gery, waar hy beheer oor die silwer Chevrolet-motor, wat hy bestuur het, verloor en in ’n huis se vibracrete-heining vasgery het.
Hy het net daar agter die stuurwiel aan sy wonde beswyk. Die jong pa van drie dogters, word beskryf as ’n geliefde gesinsman.
“Hy was liefdevol, wou altyd mense help, hy was ook hardwerkend en het vir sy familie gelewe,” het sy ma, Denise Kruger, vertel.
Huldeblyke en medelye het van heinde en verre op sosiale media ingestroom. Baie het vertel van die wonderlike mens wat hy was en ook hul misnoeë oor die bendegeweld in Atlantis uitgespreek.
“My hart is stukkend. Ek bid vir sy ma, wat hom so mooi grootgemaak het, vir sy vrou en vir hul kinders. Ek weet Atlantis gaan nie dieselfde wees na dit nie! Dit kon ek of jy gewees het, maar toe is dit Brent, ’n onskuldige broodwinner,” het Michelle Koopman, op Weskus Nuus se Facebookblad geskryf.
Cornelia Kok het geskryf: “Hoeveel onskuldige mense moet nog die prys betaal voor ons as gemeenskap opstaan en besef dit is ’n gesamentlike poging om misdaad te delg?”
Kapt. FC van Wyk, provinsiale-polisiewoordvoerder, het aan Weskus Nuus gesê vier verdagtes is Woensdag ingeneem vir ondervraging.
Twee mans (16 en 18) is egter Donderdag vir moord aangekla en het Vrydagoggend in die Atlantis-landdroshof verskyn. Die eerste verskyning is in kamera gedoen, die media en publiek word dus nie toegelaat nie, omdat een van die verdagtes minderjarig is. Die saak is uitgestel tot Woensdag 28 Junie vir amptelike borgaansoek. Kruger sal Saterdag 1 Julie om 10:00 uit die Nuwe Apostoliese kerk Saxonsea begrawe word.