Hofsake: beskuldigdes wag vir hul lot

)Aanklaer in hof vir kinderpornografie: Die voormalige waarnemende hoof staatsaanklaer by die Atlantis-landdroshof het Donderdag 30 Maart weer in die Parow-hof voor landdros Elsa van Zyl verskyn op aanklagte van seksuele aanranding, besit en versprei


  • Die voormalige waarnemende hoof staatsaanklaer by die Atlantis-landdroshof het Donderdag 30 Maart weer in die Parow-hof voor landdros Elsa van Zyl verskyn op aanklagte van seksuele aanranding, besit en verspreiding van kinderporno-grafie.

Die 42-jarige verdagte het tydens sy eerste verskyning op 30 Desember aan die landdros gesê hy sal besluit of hy staats- of privaat regverteenwoordiging gaan gebruik sodra die ondersoek afgehandel is. Tydens sy laaste verskyning het hy egter die landdros meegedeel dat hy ’n privaat prokureur wil aanstel, maar kan dit nie bekostig nie omdat hy tans werkloos is en het gevra vir meer tyd om te besin oor ’n regsverteenwoordiger.

Landdros van Zyl het die versoek toegestaan en die saak tot 5 Mei uitgestel. Die verdagte, wat nog nie gepleit het nie, is gewaarsku om nie sy borgtogvoorwaardes te verontagsaam nie.

  • Die drie mans wat aangekla word vir die moord op die tweejarige Brayden Graaf gaan binnekort hoor of hulle saak na die Kaapse Hooggeregshof verwys gaan word.

Die drie beskuldigdes: Ronaldo Gelant (18), Charlton Renier (22) en Peter Hendricks (19) is deur landdros Wanja Botha meegedeel dat die saak uitgestel word tot 26 April vir die departement van openbare vervolging se beslissing of die saak na die hoër hof oorgeplaas word.

Baba Brayden is Saterdag 23 Oktober deur ’n dwaalkoeël getref terwyl hy op sy ma se skoot gesit het buite die Bablers Place-woonstelle. Die kleuter se dood het inwoners van Atlantis geskok en met afgryse gelaat.

Die ondersoekbeampte ao. Gary Stoffels, het tydens die verdagtes se borgtogaansoek die hof vertel dat die voorval bende-verwant is en die skieters op ’n moontlike wraakaanval was. Gemoedere was hoog toe een van die verdagtes borgtog gekry het by ’n vorige verskyning, maar hy is kort daarna weer met ’n onwettige vuurwapen betrap. Die beskuldigdes is borgtog geweier en hulle bly in aanhouding.

Mamre-sleepmoord: Die verdagte in die moord van Ashwin Saayman (26), wat Sondagnag 19 Desember gesterf het nadat hy ten aanskoue van sy vriendin vermoedelik meer as 400 m ver na sy dood gesleep is, verskyn weer 12 Mei in die Atlantis-landdroshof.

Myron Krus (26), wat homself twee dae na die voorval oorgegee het, het weer 10 Maart in die plaaslike hof verskyn.

Die saak is uitgestel omdat die nadoodse ondersoekverslag nog nie afgehandel is nie.

Augustine Saayman (60), ma van die oorledene, sê hulle wil glad nie weet wat in die verslag staan nie, omdat sy weet haar liefling-kind het baie seergekry.

Volgens ’n polisiebron, het die ander insittendes in die motor blykbaar niks gesien nie, omdat hulle te dronk was. Gerugte dat daar dalk medepligtiges was kan nie bewys word nie, sê die bron.

  • Die polisie sê hul ondersoek na die dood van Jesse Stevens (7) van Sherwood is afgehandel. Die gr. 1-leerder is op 30 Julie deur ’n vierwielvoertuig in Nottinghamstraat getref.

Volgens kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisiewoordvoerder, wag die ondersoekbeampte vir die provinsiale kantoor om die dossier terug te stuur, nadat alle dossiere waarby minderjariges in die Wes-Kaap betrokke is, deur die kantoor aangevra is.

Volgens Grant Stevens, Jesse se pa, wou sy seun die pad oorsteek toe hy deur die voertuig getref is. Die bestuurder (glo ’n minderjarige) het weggejaag. Jesse het twee ure na die voorval in die Wesfleur-hospitaal aan sy beserings beswyk.

Volgens Dicks, het die nasionale vervolgingsgesag laat weet daar kan met vervolging begin word.

You need to be Logged In to leave a comment.