Huis dekade ná brand weer herbou

’n Gesin van uitbreiding 13 is in die wolke omdat hul huis ná byna tien jaar weer herbou word.


’n Gesin van uitbreiding 13 is in die wolke omdat hul huis ná byna tien jaar weer herbou word.

Proporsionele raadslid, Fiona Abrahams, het die gesin wat alles in ’n brand 10 jaar gelede verloor het, genader om hul huis te herbou as deel van haar Mandeladag-inisiatief.

Abrahams het skenkings soos boumateriaal gekry, maar het self ook kontant gegee om die huis te herbou.

Die behulpsaamheid van die plaaslike sakeondernemings het haar verbaas en volgens haar is dié proses nou in volle gang.

Volgens Mina Sameuls (67) was daar destyds ná die brand baie beloftes deur mense aan haar gemaak. “Ek wil niemand te na kom, maar as dit nie vir Abrahams was nie, sou ek seker steeds in ’n bouval gebly het. Ek het eenvoudig nie geld om die huis te herstel nie,” vertel Sameuls. “Trane van blydskap het gerol toe ek gehoor het iemand wil my help.”

Volgens haar kon dinge baie erger gewees het toe die brand ontstaan het aangesien haar dogter alleen in die huis was.

Sy sê haar kind het seker gemaak alles in die huis is af voordat sy bietjie gaan slaap het en toe sy wakker word, was die huis in vlamme gehul.

“Dat ek weer ’n dak oor my kop sal hê, is enige ma se droom,” vertel sy. Volgens Abrahams is daar nog baie uitdagings in die omgewing, want die tikkoppe is bedrywig. Sy sê die twee vensters is al gesteel en daar moet weer ’n plan gemaak word om dit te vervang voor hulle gaan voortgaan.

You need to be Logged In to leave a comment.