‘Huis was vol bloed’

Kanonkop-inwoners het Donderdag 6 September voor die Atlantis-hof byeengekom om te betoog teen ’n 48-jarige ma se vermeende moordenaar.


Kanonkop-inwoners het Donderdag 6 September voor die Atlantis-hof byeengekom om te betoog teen ’n 48-jarige ma se vermeende moordenaar.

Gerrit Hesselman (51) word daarvan beskuldig dat hy sy vervreemde vrou, Wilhemina Hesselman (48), verskeie kere met ’n mes in haar slaap doodgesteek het.

Die slagoffer se emosionele suster, Karen Dulman, vertel haar swaer het Wilhemina Maandag 3 September só gesteek dat haar longe op die grond beland het.

“My suster het al verskeie aanrandingsake teen hom aanhangig gemaak. Sy was besig om van hom te skei.

“Sy het vroeër die aand nog by my gekuier. Sy het gesê sy wens net die skei kan klaar kom, want hulle het vroeër die aand weer gestry,” sê Dulman.

Die paartjie van 25 jaar het vier kinders en was van bed en tafel geskei.

Dulman vertel verder haar suster se 13-jarige kleinkind het op die grutoneel afgekom terwyl die verdagte besig was om sy ouma te steek. “Hy het probeer keer, maar sy oupa het hom weggetrap.

“Ons weet nie hoeveel keer hy haar gesteek het nie. Dit was baie keer, die hele huis was vol bloed. Waarom het hy haar nie net gelos nie? Waarom moes hy haar so wreed vermoor?” wou Dulman weet.

Hesselman het homself in die nagtelike ure aan plaaslike polisie oorgegee. Barbara Rass, wyksraadslid en kampvegter vir vroue en kinderregte, het die familie by die hof ondersteun. Sy meen mans moet eerder ’n vrou los as om haar dood te maak.

Rass het ná die hofverrigtinge gesê geregtigheid moet geskied en die stelsel moet nie die familie faal nie.

“Hy kom voor as ’n ordentlike mens, maar dit kan ook misleidend wees,” meen sy. Die verdagte sal weer Woensdag 12 September in die hof verskyn vir ’n borgtogaansoek.

You need to be Logged In to leave a comment.